Een van die hoogtepunte op die skolesportkalender is die groot interskole sportkragmetings wat bloed, sweet en trane verg. Die wintersportseisoen kom met dié wedstryde tot ‘n einde.
HTS Drostdy pak Hoërskool Outeniqua
HTS Drostdy het sy aartsnemesis op die sportveld, die Hoërskool Outeniqua van George, voorverlede naweek, op 14 en 15 Augustus, die stryd aangesê. Toeskouers het van oral gekom, met die pawiljoen wat vol gepak was vir die eerste rugbyspanne se wedstryd. Drostdy se eerste rugbyspan het ná ‘n naelbyt-wedstryd as die wenner weggestap, met ‘n telling van 37-26. Al die rugbyspanne, behalwe die o.16A’s, het hul wedstryde teen Outeniqua gewen. Die eerste netbalspan het met 13-28 die knie gebuig. Op die hokkievelde was die stryd fel, met die eerste meisiespan wat met ‘n gelykoptelling van 3-3 tevrede moes wees. Die seunspan het met 1-3 verloor.
Worcester Gimnasium pak Hermanus
Op die selfde dag het Worcester Gimnasium ook die bul by die horings gepak met sy interskolewedstryde teen die Hoërskool Hermanus.
Gimnasium se eerste rugbyspan klop Hermanus met 54-15 terwyl die seuns en meisies se eerste hokkiespanne in beide hul wedstryde met 1-1 gelykop speel.
Die stryd op die netbalbane was een-vir-jou, een-vir-my met ‘n gelykoptelling van 17-17 vir die eerstespan. Die skaakspan het ook 6-6 elk geëindig.
Aan die einde van die dag het Worcester Gimnasium trots as die algehele wenner weggestap. Die eerstespanbeker vir krieket het saam met Gimnasium huis toe gegaan, asook die gholfbeker, rugbybeker en die eerste rugbyspan se beker.
Die Hoërskool Hermanus het die swembeker verower, asook die tennisbekers vir die eerste spanne vir beide seuns en meisies.
Die skaakbeker en bekers vir die mei- sies en seuns se eerste hokkiespanne word tussen die twee skole gedeel.
Hoërskool Montana teen Swellendam
Op die rugbyveld het die Hoërskool Montana se eerste span koning gekraai teen die span van die Hoërskool Swellendam met ‘n telling van 23-19. Die o.16A-span wen sy wedstryd met 17-12 en die o.15A-span wen met 14-12. Op die netbalbane het die spelers hard gespook vir elke punt. Die o.18A-span verloor met 21-39, die o.17A-span se telling was 17-26, die o.15A-span wen met 14-12 en die o.14A-span wen met 16-11. Die o.19A-seunshokkiespan verloor met 0-3 en die o.16A-seunshokkiespan verloor met 1-3. Die o.19A-meisiespan se telling was 0-5 en die o.16A-meisiespan se telling was 0-2.
In skaak speel die A-span gelykop en die B-span wen met 5-1. Op die gholfbaan wen Swellendam met 35-31. In die vasvrae-afdeling wen Swellendam met 66-42.





