Worcester Gimnasium gaan ‘n paar nuwe dinge in 2026 doen.

‘n Nuwe afrigter, ‘n nuwe span en nuwe dinge – dít wag alles vir Worcester Gimnasium in 2026.

JJ Pretorius wil in sy eerste jaar as hoofafrigter van die 1ste XV ‘n kampioen-ingesteldheid onder die spelers kweek.

“Het ons ‘n hoë werksetiek? Is die spelers rolmodelle vir jonger spelers? Staan hulle op vir reg en verkeerd? Dit is belangrik, want dit dra oor na die oefening en die wedstryde toe. Ons wil nooit opgee nie,” het hy verduidelik.

Worcester Gim het ‘n paar taai toffies om vanjaar te kou. Hulle durf Hudsonpark en Dale College vroeg in die seisoen op die KES-fees aan. Maar voordat hulle Johannesburg toe reis, het hulle nog wedstryde teen Wynberg en Stellenberg – dit alles voordat die uitdaging van die Boland-liga begin.

“As ons albei wedstryde by KES kan wen, sal ons reg wees vir die Boland-liga. Stellenberg is waarskynlik ons grootste toets vir die jaar; dit gaan ‘n lekker wedstryd wees, waar teenstrydige style teen mekaar getoets gaan word,” het Pretorius gesê.

Die groot wedstryd is natuurlik die “derby” tussen Gimnasium en HTS Drostdy. Volgens Pretorius het ongeveer 16 000 mense dié wedstryd verlede jaar bygewoon.

“Dié skole het baie geskiedenis tussen hulle en dit is altyd ‘n taai wedstryd. Die gemeenskap koop regtig in met die hele dag. Ons en HTS Drostdy het goeie afrigting en goeie geriewe. Ons wil die mense wys dat die dorp net sulke goeie geleenthede het. Die geleentheid vir spelers

om voor ‘n groot skare te speel, is een van die dinge waarna hulle baie uitsien,” het hy verduidelik.

Volgens hom is dit ‘n groot ekonomiese inspuiting vir die dorp, waar besigheid veral op die dag baie druk raak.

Pretorius glo dat Worcester altyd mooi hardlooprugby speel, maar weet ook vernuwing moet gebeur om mededingend te bly.

“Ons het ‘n paar planne, wat ons ‘n bietjie in ‘n ander rigting gaan vat en ander spanne so ‘nbietjie gaan verras. Ons beplanning is deeglik gedoen; ons glo dit gaan uitwerk,” het hy gesê.

Hoewel net twee spelers van 2025 se 1ste XV vanjaar nog by die skool is, is Pretorius opgewonde oor die uitdaging.

Volgens hom is dit beter vir hom as nuwe afrigter om spelers te hê wat dadelik sy manier van dinge doen, kan aanleer.

“Dit is ‘n jong span, maar dit maak dit makliker vir hulle om aan nuwe stelsels gewoond te raak,” het hy afgesluit. – Dustin Wetdewich

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article