Die kapelane Arno Damons en Johannes September is die eerste gemeenskaps- kapelane van die South African First Responder Chaplaincy (SAFReC) in die Langeberg-streek. September is ook die Wes-Kaapse provinsiale bevelvoerder.

Twee inwoners van Robertson, die kapelane Arno Damons en Johannes September, is verlede jaar as die eerste gemeenskapskapelane van die South African First Responder Chaplaincy (SAFReC) in die Langebergstreek ingehuldig.

September is vanjaar tot die Wes-Kaapse provinsiale bevel­voerder bevorder.

Volgens September is SAFReC daartoe verbind om in gebroke gemeenskappe te werk. Hulle doen berading en help mense in tye van trauma en krisisse. Hulle bied ook ondersteuning by tronke, verkeersdienste, die brandweer, polisie en nooddiens­te.

Kol. September is reeds sedert 2007 ‘n voltydse pastoor. Hy en Damons se doel is om die hart van hul gemeenskap sterk en gesond te hou.

“In die tyd waarin ons lewe, gee baie mense voor dit gaan goed met hulle, maar hulle het baie bekommernisse en gebroke harte,” het September gesê.

Dit is hiér waar SAFReC wil intree en mense deur berading weer emosioneel sterk maak.

“Enigiemand kan hierdie werk doen – nie net mense wat studeer het vir ‘n dominee of pastoor nie.”

Damons en September se opleiding het 14 weke geduur.

Die werk wat hulle doen is baie uiteenlopend en hulle be­dien mense by skole, ouetehuise, hospitale, kinderhuise, kerke, ongelukstonele en is ook by verskeie ander plekke behulpsaam.

Hulle nooi inwoners om vrywillge nooddiens-kapelane te word en sodoende hul gemeenskappe te dien. “Ons sien daarna uit om sommer baie SAFReC-kapelane in die Langeberg- en Breedevallei-munisipaliteite te vestig.”

Lidmate van alle soorte kerke is welkom.

• Stuur ‘n Whatsapp-boodskap na 076 507 6458 vir nog inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article