Die spanning bereik op Saterdag 29 Augustus kookpunt wanneer die Breëlangeberg-kampioen amptelik in Worcester aangewys word.
Hoewel die gasheer, Young Hamiltons RFC, nie self in die wedloop om die titel is nie, hou hulle die lot van die trofee regstreeks in hul hande wanneer hulle die huidige kampioene, Robertson Town, in Esselenpark-stadion takel.
Die titelstryd bepaal hom so dat sou Robertson Town wen, behou hulle hul titel as Breëlangebergkampioen. As Young Hamiltons die koning kan onttroon en Worcester Villagers wen hul wedstryd teen Alberts op Bolandpark, word Multisure Worcester Villagers as die nuwe 2026-kampioen gekroon. Buiten die titaniese stryd kan ondersteuners uitsien na hoëgehalte rugby wanneer die Boland o.21-span, onder die leiding van die voormalige Springbok-senter Juan de Jongh, dit opneem teen OP o.21.
Wedstrydbepalings:
• 11:00: 3de spanne (Young Hamiltons vs. Robertson Town)
• 12:20: 2de Spanne (Young Hamiltons vs. Robertson Town)
• 14:00: Boland o.21 vs. OP o.21
• 16:00: Young Hamiltons t. Robertson Town (hoofwedstryd).



