Multisure Villagers se slot, Shadrick Blom, bars weg, met etlike teenstanders van Touwpark wat hom probeer stuit. Foto: Stephan Neethling

Villa bo in wedstryd teen Touwpark in Grootuitdaagwedstryd

Multisure Villagers se slot, Shadrick Blom, bars weg, met etlike teenstanders van Touwpark wat hom probeer stuit. Foto: Stephan Neethling

Multisure Villagers het die afgelope Saterdag (11 Julie) op Bolandpark in Worcester in ‘n Grootuitdaagwedstryd in die Langeberg-afdeling van die Boland Rugbyunie ‘n tree nader aan die Top-12-uitspeelrondes gegee toe hy Touwpark in ‘n opwindende wedstryd met 33-19 geklop het.

Dít nadat hy teen rustyd nog met 7-12 agtergeloop het.

Die wedstryd het op ‘n posi- tiewe noot vir die besoekers begin toe hulle sommer met die afskop ‘n strafskop binne tref-afstand afgedwing het. Die losskakel, Ethon Roman, se skop trek egter regs verby. Kort hierna kry Villa ook ‘n strafskop wat sy losskakel, Mouries Farao, ook regs verby laat trek. Villa kry egter wel die telbord aan die rol toe sy haker, Alonzo Rooi, gaan druk en Farao verdoel.

Touwpark kom hierna met ‘n verbete aanslag wat op ‘n onvervyfde drie deur Tyron Snygans (slot) uitloop.

Nou behoorlik aangevuur, kry Touwpark weer punte toe Benidic van Wyk (buitesenter) oorgaan en Roman verdoel om die besoekers teen rustyd met 12-7 te laat voorloop.

Voortou na rustyd

Kort na rustyd neem Villa egter die voortou toe die skrum- skakel, Thinus Saayman, oorgaan en Roman verdoel. Sy voorsprong rek verder toe Enrico Daniels (binnesenter) oorgaan en Elton Mfundisi (plaasvervanger-losskakel) verdoel. Die voorsprong vergroot toe Cubitt Micheals (linker- vleuel) oorgaan vir ‘n onvervyfde drie.

Touwpark gee egter nooit bes nie en word met ‘n drie beloon toe Snygans met brute krag oorgaan vir sy span se derde en ook sy tweede drie. Met Roman se geslaagde doelskop krimp die agterstand na 19-26.

Villa val hierna met mening aan. Ongelukkig loop dinge lelik skeef toe Touwpark se binnesenter, Demetro Meiring, onderskep en amper die lengte van die veld afsit doellyn toe vir ‘n drie wat ook Touwpark se bonus-drie sou wees. Hy word egter van agteraf ingehardloop deur Villa se haastige flank, wat Villa se vyfde drie gaan druk. Met Farao se geslaagde doelskop stap sy span met 33-19 as oorwinnaar van die veld.

Villa se tweede bestes klop Touwpark met 26-17, terwyl Villa se derdes hul eweknie van Touwpark met 24-12 klop en verseker dat al drie tuisspanne koning kraai.

In die eerste wedstryd van die dag klop die Hoërskool Breërivier se o.19-span vir Hexvallei Senior Sekondêr met 10-7. Breërivier kom komende Saterdag (18 Julie) teen Worcester Senior Sekondêr in die eindstryd te staan. Vir Breërivier het D. Fortuin (linkervleuel) gaan druk en Jade Uys (losskakel) verdoel, terwyl H. Matthys (plaasver- vanger-losskakel) met ‘n strafskop geslaag het. Vir Hexvallei het M. Jansen gaan druk en W. Harttog verdoel.

• Saterdag speel Multisure Villagers weer tuis wanneer hy teen Montagu Klub gaan kragte meet, terwyl Touwpark besoek van die voorlopers, Robertson Town, ontvang. – Alver Uys

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article