Pregnant mother saying to to alcohol.
Vaders speel net so groot rol in die gesondheid van hul baba as wat moeders doen. Foto: Stefamerpik on Magnific

Pa’s kan ook bydra tot Fetale Alkohol-spektrumversteuring

Pregnant mother saying to to alcohol.
Vaders speel net so groot rol in die gesondheid van hul baba as wat moeders doen. Foto: Stefamerpik on Magnific

Vir baie jare is die verantwoordelikheid vir die voorkoming van Fetale Alkohol-spektrumversteuring (FASV) feitlik uitsluitlik aan die moeder toegeskryf.

Nuwe navorsing toon egter dat dit nie die volledige prentjie is nie. Die pa se genetiese bydrae, sowel as die ondersteuning wat ‘n swanger vrou van haar gesin en gemeenskap ontvang, speel ook ‘n belangrike rol in die gesondheid en ontwikkeling van die ongebore baba.

FASV dien as ‘n herinnering dat geen hoeveelheid of soort alkohol tydens swangerskap as veilig beskou kan word nie. Wanneer ‘n fetus aan alkohol blootgestel word, kan dit die baba se ontwikkeling onherstelbaar beïnvloed. Kinders wat voor geboorte aan alkohol blootgestel is, bereik dikwels ontwikkelingsmylpale stadiger en sommige ontwikkelingsvlakke word moontlik nooit ten volle bereik nie.

Suid-Afrika het die hoogste gediagnoseerde voorkoms van FASV ter wêreld. Die hoogste syfers word in die Wes- en Noord-Kaap aangetref, waar na raming tot een uit elke vyf kinders geraak kan word.

Die boodskap oor FASV kan eenvoudig saamgevat word: dit is 100% voorkombaar, maar ook 100% permanent.

Dit kan voorkom word

Die goeie nuus is dat FASV heeltemal voorkom kan word indien geen alkohol tydens swangerskap gebruik word nie. Die uitdaging is egter dat meer as 64% van swangerskappe in SA onbeplan is. Baie vroue besef eers gedurende die tweede trimester dat hulle swanger is. Teen daardie tyd kon alkohol, ander afhanklikheidsmiddels, swak voeding of ‘n ongesonde leefstyl reeds ‘n negatiewe invloed op die ontwikkelende fetus gehad het.

Sodra jy weet jy is swanger, moet die gebruik van alkohol onmiddellik gestaak word. Daar bestaan geen bewese veilige hoeveelheid alkohol tydens swangerskap nie. Deur swangerskappe, waar moontlik, te beplan en alkohol te vermy, gee ouers hul baba die beste begin moontlik in die lewe.

Blywende effek

Slegs ‘n dokter kan FASV diagnoseer. Die woord “spektrum” dui daarop dat die toestand op verskillende maniere kan manifesteer en dat die erns van simptome van kind tot kind verskil.

Babas met FASV kan met ‘n lae geboortegewig of ‘n kleiner kopomtrek gebore word en sukkel dikwels met voeding of slaap. Sommige kinders toon kenmerkende gesigseienskappe, terwyl ander aangebore afwykings van die rug, hart, longe of ander organe kan hê. Gedragsprobleme, konsentrasie-uitdagings en leerprobleme word dikwels reeds gedurende die kleuterjare opgemerk.

Die harde werklikheid is dat skade wat tydens swangerskap ontstaan, nie ná geboorte spontaan herstel nie. Die gevolge van FASV is lewenslank.

Die rol van die pa

Waarom is dit belangrik dat ook mans reeds vóór bevrugting hul alkoholverbruik beperk of staak?

Vir lank is aanvaar dat die pa slegs ‘n eenmalige genetiese bydrae maak, terwyl die moeder die volle verantwoordelikheid vir die baba se ontwikkeling dra. Moderne navorsing wys egter dat minstens die helfte van die ongebore baba se genetiese materiaal van die vader afkomstig is.

Die gehalte van die sperm beïnvloed nie net die baba se genetiese ontwikkeling nie, maar ook die vorming van die plasenta, wat die fetus gedurende swangerskap beskerm en voed. Faktore soos die vader se ouderdom, algemene gesondheid, siektes en die gebruik van alkohol of ander afhanklikheidsmiddels kan die gehalte van sperm benadeel en die risiko vir geboorte-afwykings of selfs miskrame verhoog.

‘n Gesonde swangerskap begin dus reeds vóór bevrugting – by albei ouers.

‘n Gemeenskaplike verantwoordelikheid

Swangerskap is ‘n besondere voorreg, maar dit behoort nooit slegs die moeder se verantwoordelikheid te wees nie. Vennote, families en die gemeenskap het almal ‘n rol om te speel deur swanger vroue fisiek, emosioneel en prakties te ondersteun. ‘n Sterk ondersteuningsnetwerk help om gesonde keuses te bevorder en skep die beste omgewing moontlik vir ‘n gesonde swangerskap.

Die FASV-navorsingspan van die Universiteit Stellenbosch bied van vanjaar interaktiewe voorkomingsessies in die Langeberg- munisipale gebied aan. Met Nasionale FASV-dag wat jaarliks op 9 September gehou word, wil die span die geleentheid gebruik om soveel gemeenskappe moontlik met ‘n positiewe voorkomingsboodskap te bereik.

Organisasies, skole, kerke en gemeenskapsgroepe in die Langeberg munisipale gebied word uitgenooi om die span te kontak vir gratis interaktiewe aanbiedings.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article