Die wynmaker Willie Burger tree ná 40 jaar as wynmaker in die Breedevallei af.
Burger was die afgelope 28 jaar die wynmaker by die Badsberg-kelder buite Rawsonville.
Dié plaasseun uit die Brandvlei-omgewing in die Noord-Kaap se eerste proeseltjie wyn was as skoolkind tydens Sondagmiddagetes. “Ek het altyd gewonder hoe kom die druiwe van die wingerdstok af tot in die bottel Late Harvest,” het hy vanaf Badsberg se stoep met die mooi uitsigte oor die wingerde vertel.
Sy pa is vroeg oorlede en die skaapplaas moes noodgedwonge verkoop word. Gedurende sy studies by die Elsenburg-kollege in Stellenbosch het die wynmaakgogga hard gebyt. “Ek het altyd gedink ek sou in die Karoo gaan boer!”
Burger het ‘n liefde om skeppend te wees en dit was die aantrekking van wynmaak. “Dit is altyd lekker om uit niks uit iets te maak.”
Ná sy studies het hy vir drie jaar as assistant-wynmaker by De Wet-kelder gewerk, waarna hy ses jaar lank die wynmaker by Brandvlei-kelders was. Daarna het drie jaar as wynmaker by Slanghoek-kelder gevolg, totdat hy by Badsberg-kelders aangesluit het.
Sy seisoen by Badsberg was ‘n goeie tyd waar die kelder verskeie toekennings ontvang het.
Die kelder het vier keer die Genl. Jan Smuts-trofee by die Suid-Afrikaanse Jongwynskou gewen. By dieselfde skou het die kelder ook agt keer die Pietman Hugo-trofee gewen. Dié trofee word toegeken aan die kelder wat die meeste punte insamel vir hul vyf beste wyn-inskrywings, wat beteken dat hul wyn deur die bank eersteklas moet wees.
In 2016 was hulle die eerste kelder wat beide dié trofees gewen het.
“As jy goeie wyn wil maak, moet jy ‘n spanspeler wees. Dis die hele span se harde werk wat goeie resultate verseker,” het hy vertel.
“Goeie wyn begin reeds in die wingerd en die keuse van gehaltedruiwe is krities. Die produsent speel ‘n belangrike rol met hoe hy sy druiwe rypmaak en lewer – veral die bemesting en besproeiing. Daar is ‘n ‘sweet spot’ van drie dae in ‘n jaar wat daardie druiwe gepars moet word nadat hulle optimale rypheid bereik het. Dit is ‘n kuns om dit reg te kry en neem baie beplanning – al jare tevore.”
Sy skoolleuse van jare tevore het hom deur sy loopbaan bygebly: Doen dit nou.
“Wynmaak is baie intens en verg harde werk en laat nagte. Dan hoop ‘n mens alles gaan reg verloop.”
Jare waar goeie wyn op die mark is, maar die pryse baie laag is, was vir hom hartseer.
Aftrede beteken glad nie stilsit nie. Burger en sy vrou verhuis na Outeniquastrand naby George om naby die see te wees. “My vrou sê ons gaan hierdie mooi berge nog baie mis,” sê Burger.
Omdat hy gewoond is om besig te bly, beplan hy om op sy stokperdjie te fokus – die restourasie van ou Mercedes-motors uit die 1980’s en ouer.
“Ek gaan Badsberg se mense baie mis – die personeel en die produsente. Ons het baie goed saamgewerk.”
Burger klink vir oulaas ‘n glasie van sy gunsteling-Merlot op ‘n goeie loopbaan. – Ronél van Jaarsveld



