Worcester Villagers (Villa) begin sy voorseisoense voorbereiding vir die 2026-seisoen met sy eerste vriendskaplike wedstryd op 31 Januarie.
Dit is sy vriendskaplike wedstryd teen St. Helenabaai, wat op ‘n jaarlikse weg- en tuiswedstryd (soos ooreengekom), geskied. Op 7 Februarie speel Villa weer weg en teen Caledon in die Overbergstreek.
Op 14 Februarie speel die klub sy derde wegwedstryd teen Bellville, terwyl hy op 21 Februarie tuis teen Kleinmond op Bolandpark gaan kragte meet. Op 28 Februarie sluit Villa sy voorbereidings af met ‘n vriendskaplike kragmeting teen bure Proteas in De Doorns. Villa begin na alle waarskynlikheid vanjaar se aanslag in die Langeberg-afdeling van die Boland se Grootuitdaag-kompetisie teen een van twee debutante, Young Good Hopes van Ashton, op sy tuisveld, Bolandpark.
Villa het verlede jaar ná ‘n uitmergelende seisoen van 38 wedstryde, wat vriendskaplike wedstryde in die Saldanha- Paastoernooi, 22 ligawedstryde, ses Top-12-wedstryde en drie Gold Cup-wedstryde behels het, eers op 15 November in die half-eindstyd teen die uiteindelike wenners, Saldanha, geëindig.
Villa het intussen ook sy afrigterskorps aangewys met die deurwinterde Elroy (Kabaan) Daames, wat as hoofafrigter aangestel is. Sy adjudante in die A-span is Georgie Pieterse en Washir Friesler, met Julbur Johnson as spanbestuurder. Ewan Wagenstroom is verantwoordelik vir logistiek met Elana February, wat weer na die spelers se skete gaan omsien. Jouhann de la Bat is verantwoordelik vir die kondisionering terwyl Marco Arries die leiding by die B-span neem met Herchill Grove en Mario Mentoor aan sy sy as assistente. Arashayad Kriel neem die leiding by die C-span met Jonathan Langley, Girshwin Africa en Willem Faas wat as sy hulp aangestel is.
Met Alberts wat ook vanjaar vir die eerste keer in dié liga gaan meeding, kan met groot verwagting uitgesien word na nog ‘n rugbyseisoen vol aksie. – Alver Uys


