Ongelukkigheid oor die vlak 2-waterbeperkings in die Langeberg-munisipaliteit kring uit, met Johnny Steenkamp, ‘n VF Plus-raadslid, wat sê dat dié beperkings onnodig is.
In ‘n verklaring wat verlede Woensdag (28 Januarie) deur die VF Plus uitgereik is, sê dié party dat die beperkings wat die afgelope Sondag (1 Februarie) in werking getree het, onnodig is. Hy beskou dit as teenproduktief en ‘n bewys van swak beplanning en die jarelange verwaarlosing van infrastruktuur.
“Die munisipaliteit voer swak reënval en leë damme as rede aan, maar die werklikheid is dat die Langeberg-munisipaliteit sy water hoofsaaklik uit die Breederivier onttrek, wat ‘n betroubare bron is en voldoende water kan voorsien,” sê Steenkamp.
Daniël Lubbe, die munisipale bestuurder, het op dié verklaring gereageer en sê daar is verskeie onakkuraathede. Hy het ook die redes vir van die besluite en oponthoude verduidelik.
‘Onderhoudswerk moes gedoen word’
“Die krisis spruit eerder uit ‘n te klein en ontoereikende pomp by die Gumgrove-watersuiweringsaanleg wat nie genoeg water kan pomp nie, asook verskeie ander pompe wat buite werking is, waaronder die Montagu-pomp wat reeds twee maande stukkend is,” sê Steenkamp.
“Daarby kom verouderde en beskadigde waterpype wat gereeld breek en enorme waterverliese veroorsaak, terwyl geen betekenisvolle onderhoud of opgraderings die afgelope 15 jaar plaasgevind het nie, ten spyte van ingenieursverslae en aanbevelings wat sedert 2011 geïgnoreer is.”
Volgens Steenkamp is noodherstelwerk wat in November 2025 begin is steeds onvoltooid weens wanbetaling aan kontrakteurs, ten spyte van voldoende finansiering in die begroting.
“Die feit dat leiwaterbeurte vir ‘n week hervat is, bewys dat daar wel genoeg water beskikbaar is. Dit word bloot nie effektief na inwoners gepomp nie. Water wat vir menslike verbruik beskikbaar is, word nou na leiwater omgelei terwyl inwoners onnodig gestraf word met beperkings . . . en boetes vir verbruik bo 15 kiloliter per maand. Selfs in gebiede soos Ashton en Montagu, wat geen watertekorte ervaar nie, geld dieselfde waterbeperkings.”
Dié stappe rig volgens hom skade aan die plaaslike ekonomie. Die party sê dat hy reeds ‘n verslag met werkbare voorstelle aan die burgemeester en bestuur voorgelê het, maar daar is nie ag op geslaan nie.
Munisipaliteit reageer op beweringe
Lubbe sê in reaksie dat hulle konstruktiewe interaksie verwelkom, maar dat nie al die feite reg is nie. Hy sê beperkings is nodig omdat die omgewing laer reënval oor die afgelope twee seisoene ontvang het, wat damvlakke krities laag laat. Dit affekteer beide die beskikbaarheid van rou water en langtermyn-watersekuriteit.
“Die Breederivier bly ‘n sleutelbron. Die maksimum hoeveelheid water wat aan ons toegeken is, word gepomp. Die huidige pompstasie in die kanaal is onlangs opgegradeer. ’n Aansoek om die hoeveelheid water wat aan die munisipaliteit toegeken is te verhoog, word verwerk. Daar word ‘n bykomende pompstasie benodig en dit is in die beplanningsfase sodat nog water na die kanaalpompstasie gepomp kan word.”
Lubbe sê dat water vir menslike gebruik en vir landbou fyn gebalanseer moet word.
“Beperkings is ontwerp om regverdige verspreiding te verseker, terwyl die beskerming van drinkwater die toppriori- teit is. Gedurende oesseisoen is dit baie belangrik dat genoeg water aan die relevante sektore verskaf word.”
Hy sê dat die pompstasie by die Gum- grove-dam binnekort opgegradeer sal word.
Infrastruktuur nie rede vir beperkings
Lubbe erken dat daar uitdagings is wat die onderhoud en opgradering van infrastruktuur aan betref. “Pompe en pylyne het aanhoudende belegging nodig. Noodherstelwerk word gedoen soos wat dit nodig is. Ons beperkinge op infrastruktuur is egter nie die rede vir die waterbeperkings nie. Selfs al sou dit alles in orde wees, beteken die verminderde invloei van rou water dat die stelsel nie sal kan voldoen aan ‘n onbeperkte en aanhoudende styging in die vraag na water nie.”
Die tydelike instelling van leiwater- beurte was volgens Lubbe ‘n tydelike maatreël om die druk op landbou te verlig en om te verhoed dat drinkwater gebruik word om tuine nat te lei, en nie ‘n teken dat ‘n oormaat water beskikbaar is nie.
Lubbe sê voorts dat voorstelle nie geïg- noreer word nie, maar dat projekte in lyn met begrotingsiklusse en verkrygingsregulasies ingefasseer word.




