Suzette Willemse (voor, derde van regs) en die res van die Bonnievale Gemeenskapspolisiëringsforum.

Bonnievale is die Wes-Kaap se trots nadat dié dorp se gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) onlangs uit meer as 150 GPF’s van reg oor die provinsie met die GPF van die Jaar-toekenning weggestap het.

Sebastian Abrahams, provinsiale adjunk- GPF-voorsitter, sê GPF’s ontvang hierdie toekenning vir hul gemeenskapsbetrokkenheid deur onder meer misdaad-bewusmakingsprogramme in hul gemeenskappe te bewerkstellig en met ander organisasies saam te werk ten einde misdaad doeltreffend te bekamp.

Die forum het ook derde plek in die kategorie Beste gebruik van Tegnologie in Gemeenskaps-polisiëring behaal.

Die forum se ondervoorsitter, Junet Adendorf, is as Vrywilliger van die Jaar aangewys. Sy het ook tweede plek behaal vir haar eersteklas-bydraes tot slagoffer-ondersteuning.

Die toekenningseremonie is deur die Wes-Kaapse Gemeenskapspolisiëringsforum gereël en het verlede Saterdag (24 Januarie) in die Vishoek-stadsaal plaasgevind.

Suzette Willemse, Bonnievale se GPF-voorsitter, sê hierdie is die eerste GPF-toekenningseremonie wat deur die provinsiale GPF gereël is.

‘Liefdesdaad vir gemeenskap’

Volgens Willemse is Bonnievale GPF die eerste wenner van GPF van die Jaar in die Wes-Kaap, en ook die eerste in die land.

Willemse sê Bonnievale GPF se werksaamhede is raakgesien en hulle is in ekstase oor hierdie spesiale toekenning.

“Die erkenning beteken ongelooflik baie vir ons. As ‘n span vrywilligers uit die gemeenskap doen ons daagliks ons uiterste bes om die polisie se hande in misdaadbekamping te versterk.

“Die toekenning is ‘n blyk van waardering vir die opofferinge wat gemeenskapslede so onbaatsugtig maak en motiveer ons om voort te gaan met ons werk. Hierdie is ons liefdesdaad vir ons gemeenskap.”

Volgens Willemse word die sukses van dié prestasie toegeskryf aan ‘n toegewyde span, sterk leierskap en goeie samewerking.

Sy sê hul GPF-bestuur en substrukture, insluitend buurtwagte, slagoffer-bemagtiging en Community in Blue, lewer uitnemende diens.

Community Blue is ‘n groep vrywilligers wat help met sigbare polisiëring.

“Ons werk word verder versterk deur goeie vennoot- skappe met die polisie, sekuriteitsmaatskappye, plaaslike regering, skole, kerke, die sakekamer, en ander rolspelers, en natuurlik die ondersteuning van die Bonnievale-gemeenskap,” sê Willemse.

Tekort aan hulpbronne

Volgens Willemse is die werk van die Bonnievale GPF uitdagend met betrekking tot dwelm- en alkoholmisbruik, kindermishandeling en geslagsgebaseerde geweld in die gemeenskap.

“Daar is ook toenemende uitdagings met betrekking tot die nakoming van wet en orde, wat ‘n invloed het op gemeenskapsveiligheid en samewerking.”

Sy sê voorts dat die tekort aan hulpbronne en polisielede die werk nóg moeiliker maak, maar dat die betrokkenheid en toewyding van vrywilligers hulle (die GPF) steeds in staat stel om ‘n betekenisvolle verskil in die gemeenskap te maak.

“Ten spyte van hierdie uitdagings bly ons fokus op samewerking, dialoog en die bou van ‘n veiliger Bonnievale vir almal.”

Op sy beurt nooi Abrahams Bonnievalers om by die forum aan te sluit om ten einde ‘n nog sterker front teen misdaad te bou.

◘ Vir meer inligting hier- oor WhatsApp Willemse by 074 733 7154. – Enrico Claassen

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article