Inwoners in die Breedevallei-munisipale gebied kyk met hartseer oë na nuusberigte oor die goeie reën wat die noorde van die land ontvang ná waterbeperkings by verskeie munisipaliteite in werking tree.
Van Woensdag 12 November geld vlak 1-waterbeperkings in die Breedevallei-munisipaliteit (BVM). Die Langeberg-munisipaliteit het reeds waterbeperkings sedert 1 November.
Volgens Chad Malgas, ‘n bestuurder by die munisipaliteit, word dié beperkings ingestel as ‘n pro-aktiewe stap om die munisipaliteit se beskikbaarheid van water te bestuur. “Damme se huidige watervlakke is effe laer as dieselfde tyd verlede jaar, wat ons laat besluit het om hierdie voorkomende stappe in te stel,” hy hy gesê.
“Ons tegniese spanne monitor die watervlakke gereeld en sal die beperkings aanpas soos wat die omstandighede vereis,” het hy gesê.
Volgens die Breede-Olifants-opvangsbestuursagentskap het die Brandvleidam se watervlak op Maandag 10 November op 73,72% gestaan, die Kwaggaskloofdam op 72,20% en die Stettynskloofdam op 96,89%.
Volgens die BVM mag inwoners van al die dorpe in die munisipaliteit slegs vroegoggend en laatmiddag tuin natmaak op Maandae, Woensdae en Saterdae. Tuine mag nie tussen 09:00 en 17:00 natgespuit word nie. Voertuie moet met ‘n emmer eerder as ‘n tuinslang gewas word. Swembaddens mag wel gevul word. Die afkoel van dakke deur dit nat te spuit en die was van mure, opritte en parkeerterreine word nie toegelaat nie.
Die gewone tariewe geld en enige leiwater sal twee keer per week beskikbaar wees.
Die gemeenskap sal op hoogte gehou word van enige veranderings aan die vlak van waterbesparing – dit sal ook op www.bvm.gov.za bygewerk word.
Die munisipaliteit raai inwoners aan om die volgende te doen om hul waterverbruik te beperk:
• Spuit die tuin minder nat deur slegs nat te lei wanneer nodig. Doen dit vroegoggend of laataand om verdamping te verminder.
• Gebruik gryswater wys: Hergebruik water soos dit wat vir wasgoed of afspoel gebruik word in die tuin om of goed buite te was.
• Maak enige lekplekke gou reg. Meld probleme vinnig aan.
• Beperk jou tyd in die stort na twee tot drie minute en draai die krane toe terwyl jy was.
• Maak gebruik van reënwatertenks.
• Vee opritte en geplaveide dele skoon eerder as om dit af te spuit.
• Gebruik skottelgoedwassers en wasmasjiene slegs wanner dit vol is om water te spaar.
As elke huishouding dié kleiner stappe volg, kan heelwat water bespaar word.




