Die Langeberg-munisipaliteit se waterprobleme is onder die soeklig nadat vlak 1-waterbeperkings vroeër vandeesmaand ingestel is.


Die waterbeperkings wat sedert 1 Februarie in Robertson geld, het inwoners erg onthuts. Dié stap kon vermy gewees het, beweer hulle, as die munisipaliteit instandhouding na behore gedoen en genoeg water gepomp het.

Die redes wat die munisipaliteit verskaf vir die waterbeperkings is volgens inwoners “misleidend”.

Die Langeberg-munisipaliteit het vlak 1-waterbeperkings ingestel, met die damvlakke van die streek wat in die middel van die somer tot onder 25% gedaal het. Lae reënval, verhoogde waterverbruik gedurende die somer en buitengewoon hoë daaglikse temperature het glo hierdie stappe genoodsaak.

In ’n verklaring noem die munisipaliteit dat in die tydperk van Augustus tot Desember die gebied die laagste reënval die afgelope vyf jaar gehad het. Die watervlakke in die Dassieshoek- en Koos Kok-damme het aansienlik gedaal, met die vlakke respektiewelik 29% en 30% op 26 Januarie, teenoor 100%-vlakke in dieselfde tyd verlede jaar.

Verskeie inwoners het hul misnoeë op die Langeberg-munisipaliteit se Facebook-blad te kenne gegee en sê die munisipaliteit het te laat opgetree.

Cobus Bester, ’n inwoner, het aan Standard Breederivier Gazette gesê dat die munisipaliteit nie die ware stand van sake aan inwoners gee nie.

Bester het die Inligtingsreguleerder genader om toegang te kry tot ’n verslag wat die munisipaliteit opgestel het oor waterprobleme wat in 2022 ervaar is. Hy sê hy het in 2023 die munisipaliteit herhaaldelik om toegang tot die verslag gevra, sonder sukses.

Die reguleerder het ’n voorlopige bevinding gemaak dat hy wel toegang tot die rekords gegee moet word.

Bester glo dat die verslag ook lig sal werp op probleme wat die munisipaliteit in hierdie stadium ervaar. “Hierdie is ’n krisis wat voorkom kon word, dit is hoekom hulle nie die verslag bekend wil maak nie. Ons weet hoe lyk die roete na verval en dis ’n kwessie van tyd voor infrastruktuur in duie stort,” het hy beweer.

Volgens die munisipaliteit werk hy aan die probleem. Daar is met die Sentrale Breërivier Watergebruikersvereniging en ander rolspelers vergader.

Willy-John Gordon, ’n woordvoerder van die munisipaliteit, het gesê hulle is besig is om ’n volledige verslag oor die waterkwessie voor te berei. Dit sal in Februarie voor die burgemeesters­­komitee en die raad vir ’n finale besluit oor aksie dien.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article