Weens dalende watervlakke in Wes-Kaapse damme en ’n dorre voorspelling vir reën oor die volgende paar maande het die Breedevallei-munisipaliteit vir eers weer waterbeperkings ingestel.
Wes-Kapenaars – veral Worcesteriete –het sowat vyf jaar gelede onder ernstige waterbeperkings gebuk gegaan nadat dit ingestel is om die destydse droogte te bestuur. Inwoners het gewag op “dag zero”, ’n voorspelling dat watervoorraad in die Wes-Kaap sou opdroog.
Boere is op hul knieë gedwing en talle bedrywe en huishoudings het hulle teen die moontlikheid van ’n verwoestende en lewensbedreigende droogte gestaal.
Danksy waterbeperkings en die flink optrede van inwoners sowel as die owerhede in die Wes-Kaap is “dag zero” gefnuik.
Nou sal Worcester vir tyd en wyl moet aanpas by vlakeen-waterbeperkings terwyl die gemeenskap van De Doorns vlaktwee-waterbeperkings moet toepas.
Vlakeen-waterbeperkings beteken inwoners is steeds geregtig om hul voertuie te was, swembaddens vol te tap en basiese funksies uit te voer. Tuine mag egter net op Maandae, Woensdae en Saterdae natgemaak word en ook nie tussen 09:00 en 17:00 nie.
Standaardtariewe geld steeds en leiwater sal twee keer per week, soos gewoonlik, beskikbaar gestel word.
Vlaktwee-waterbeperkings soos in De Doorns beteken egter swembaddens mag nie volgemaak word nie en geboue en parkeerplekke mag nie afgespuit word nie. Voertuie mag wel gewas word, maar slegs met water in emmers, en tuine mag slegs op Dinsdae en Saterdae natgemaak word, maar nie tussen 09:00 en 17:00 nie
Lees gerus in Donderdag 30 November se Standard meer oor hoe om effektief water te bespaar en te gebruik.




