‘n Noodlottige ongeluk op die R60-pad tussen Robertson en Ashton het die lewens van verskeie families onherroeplik verander. Vyf mense is dood en nog twee is ernstig beseer.
Die afgelope Vrydag (10 Julie) was ‘n wit Renault Triber en ‘n goue Nissan Levina net ná 05:00 die oggend naby die Arabella-wynplaas in ‘n trompopbotsing betrokke. Die pad was etlike ure lank gesluit terwyl nooddienste hulp verleen het en die ongelukstoneel opgeruim is.
Agt mense was in die ongeluk betrokke. Volgens die Langeberg-munisipaliteit is drie volwasse mans en ‘n vrou op die toneel oorlede. Drie vroue is hospitaal toe geneem met ernstige beserings, terwyl nog ‘n man ligte beserings opgedoen het. Een van die vroue is later in die hospitaal oorlede.
Werknemer besef dis familie
Die skok was groot vir ‘n werknemer van Langeberg Towing, Luvo Mcekethi, toe hy met sy aankoms besef dat van die oorledenes familielede is.

“Ons ondersteun Luvo gedurende hierdie baie moelike tyd en ons medelye is met hom, sy familie en almal wat deur hierdie tragedie geraak is,” het die onderneming gesê.
Standard het uitgereik na die familie, maar hulle het nie teen druktyd kommentaar gelewer nie.
Vir Hemrick Jansen was die slag groot nadat hy sy vrou, Jemima, ook bekend as “Mima”, in die ongeluk verloor het. Die 41-jarige Jemima was die moeder van ‘n 18-jarige dogter en ‘n negejarige seun.
“Jemima was ‘n liefdevolle dogter, toegewyde eggenote, sorgsame moeder, kosbare suster en ‘n ware vriendin. Sy het ‘n hart gehad wat altyd oop was vir ander. Sy was altyd bereid om te help, om te luister, om om te gee en om liefde te wys aan almal wat oor haar pad gekom het,” sê Hemrick.

“Haar vriendelike glimlag, vrolike geaardheid en unieke sin vir humor het lig gebring in die lewe van soveel mense. Sy het mense spesiaal laat voel en haar liefde en warmte sal vir altyd onthou word.”
Benewens haar gesin laat sy haar pa, drie susters en twee broers agter. Haar roudiens vind vandag (Donderdag 16 Julie) om 19:00 by die VGK Loopstraat in Robertson plaas.
Begin ‘n nuwe hoofstuk
Jacques Pretorius (47) het daarna uitgesien om met ‘n nuwe hoofstuk in sy lewe te begin. Hy was besig om van Durbanville na Robertson te verhuis nadat hy ná afleggings by sy vorige werkgewer uiteindelik weer werk gekry het. Hy was ‘n spesialis in geografiese inligtingstelsels (GIS).
Sy suster, Adele Jordaan, sê hy was nie getroud nie.
“Hy was baie lief vir die natuur en visvang, en vir sy kat, Sliver. Jacques was eintlik maar in sy hart dieselfde ondeunde jong man van sy jongdae. Hy was ‘n probleem-oplosser, het patrone raakgesien waar ander nie noodwendig sou nie en ‘n intelligente denker. Hy was lief vir die unloved, die alternatiewe, die stilte van die natuur. Hy was ‘n avonturier en nie bang om alleen brawe besluite te neem en sy drome na te jaag nie,” sê sy. Begrafnisreëlings vir Pretorius is teen druktyd nog nie afgehandel nie.
Johan Carstens, die eienaar van Langeberg Towing, het die nooddienste en polisie bedank vir hul vinnige optrede om die beseerdes ná die ongeluk te hulp te snel. – Ronél van Jaarsveld






