Nuwe wa vir Langeberg se brandbestryders


Die Langeberg-munisipaliteit se weerbaarheid teen brande het ‘n reusesprong vorentoe geneem met die aanskaf van nog ‘n voertuig vir brandbestryders.

Die munisipaliteit het onlangs die voertuig ter waarde van meer as R6 miljoen in ontvangs geneem. Die brandbestrydingsdienste het nou nege voertuie wat hul vermoë aansienlik vergroot.

Benewens die standaardkenmerke het die nuwe brandweerwa ‘n watertenk van 5 000 liter met ‘n pomp-gemonteerde mo­nitor en ‘n beheerstelsel. Die wa pronk ook met horisontale en vertikale rotasie vir vinnige brandbestryding asook ‘n pneumatiese teleskopiese maslig wat 4,7m hoog reik en vier ligte op het.

Die vierwielaangedrewe voertuig kan deur onherbergsame terrein beweeg en is toegerus om mense uit voertuigwrakke te red.

Die wa sal in Robertson gestasioneer wees, wat sal help om die brandweer se reaksietyd so kort as moontlik te hou.

“Hierdie nuwe, moderne brandweerwa demonstreer die Langeberg-munisipaliteit se toewyding om brandbestryders toe te rus met die toerusting wat hulle nodig het om op noodgevalle te reageer en lewens te red,” het die uitvoerende burgemeester, Schalk van Eeden, gesê.

Die munisipaliteit het gesê hy ondervind ‘n toename in brandverwante noodgevalle.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article