Nooddienste op die toneel waarin een vrou Dinsdagoggend in ’n ongeluk omgekom het.Foto’s: Globalforce EMS


’n Ongeluk op die Ceres-pad het vroeg Dinsdagoggend die lewe van ’n vrou geëis en talle mense is beseer.

Volgens Deanna February, kommunikasiebeampte van die Wes-Kaapse Mediese Nooddienste (EMS) het hulle Dinsdagoggend (8 Februarie) op ’n voorval gereageer waarin ’n Hummer-sportnutsvoertuig betrokke was.

“Die voertuig, met vyf insittendes, se band het blykbaar gebars terwyl dit in die rigting van Tulbagh, op Artois Wolseley, Ceresweg, gery het. ’n Oproep om bystand het om 07:42 na die noodkommunikasie-sentrum deurgekom. Ongelukkig het ’n 48-jarige vrou noodlottige beserings opgedoen,” sê February.

Sy verduidelik verder dat een vrou ernstige beserings en een vrou en twee mans geringe beserings in die ongeluk opgedoen het. Twee pasiënte is na Worcester Medi Clinic vervoer en een pasiënt is na die Ceres-hospitaal geneem.

“Amptenare van die forensiese patologie dienste was op die toneel en het die standaardprotokol gevolg terwyl hulle die liggaam van die oorledene afgehaal het.

. In ’n aparte voorval Dinsdagoggend het nog ’n botsing sowat drie kilometer van bogenoemde ongelukstoneel af gebeur. Volgens Hilmer van der Westhuizen van Globalforce-nooddienste het die botsing by die T-aansluiting by die uitgang van Wolseley gebeur en drie pasiënte is vir beserings behandel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article