Ons is opgewonde oor die nuwe jaar – ons wens vir Innovation for the Blind en vir elke persoon wat hierdie boodskap lees, is dat jy elke dag met dankbaarheid sal begin, dat jy in die oomblik sal lewe, dat jy meer sal lag, betekenisvolle verbintenisse sal skep, dat jy sal fokus op die positiewe, glo dat die goeie sal seëvier, dat jy maniere sal vind om vrygewig te wees, maar die belangrikste, dat jy sal kies om gelukkig te wees ongeag jou omstandighede.

Elke jaar het uitdagings, maar in elke jaar is daar ook hoogtepunte om na uit te sien. As ons terugkyk op 2021, wil ons eerstens dankie sê aan elke donateursvriend, personeellid, inwoner en vennoot van Innovation for the Blind vir u volgehoue ondersteuning. U lojaliteit teenoor ons organisasie word beslis nie as vanselfsprekend aanvaar nie en ons sal voortgaan om daarna te streef om u trots te maak deur saam ’n meetbare verbetering in die lewensgehalte van mense met visuele gestremdhede te maak.

2021 was ’n transformerende jaar vir Innovation, ’n jaar waarin die organisasie versterk is en ons verskeie nuwe inisiatiewe kon uitrol. Ons het hard gewerk om boustene in plek te stel om ons langtermyndoelwitte te bereik. Met trots en dankbaarheid wil ons graag ’n oomblik neem om te fokus op ’n paar van die hoogtepunte van 2021: Die stigting van ons Hulpbronsentrum en die Barista-opleidingsentrum, ’n besoek van KykNet se Dankie Lottoland, die impak van die navorsing wat by Innovation for the Blind deur die Henley Business School (VK) gedoen is, nuwe kontrakte vir ons Vaardigheidsontwikkeling, soos die werk wat deur ons Tuinbouspan in die Worcester-gemeenskap verrig word, die honderdjaarviering van die wit langkierie, en die voltooiing van ons eerste sonkrag-aanleg – die eerste stap om ons energiedoelwitte vir vanjaar te bereik.

Vanjaar gaan vir seker ’n opwindende jaar vir ons wees, en ons sien uit daarna om aan ons verskillende inisiatiewe te werk. Van ons doelwitte vir die jaar is om beter werksgeleenthede vir mense met visuele gestremdhede te skep, vorentoe te beweeg met ons navorsingsinisiatief om die opleidingsbehoeftes van mense met visuele gestremdhede te bepaal t.o.v. werksgeleenthede, ou vennootskappe te laat groei en nuwe vennootskappe te vestig.

Ons wens u en u geliefdes ’n gelukkige en suksesvolle 2022 toe! Mag ons altyd daarop gefokus bly om dankbaar te wees vir die baie seëninge wat ons ontvang!

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article