Die personeel by die Worcester-hospitaal wat moeite doen om gesonder gewoontes te kweek, is van links: Junilla Hanse (verpleegassistent), Maajida Adams (ingeskrewe verpleegkundige), sr. Elsabe Engelbrecht (professionele verpleegkundige), Jaydee Issel (administratiewe beampte), Zenani Dyanti (verpleegassistent), Nerissa Joseph (verpleegassistent), sr. Cynthia Arries (professionele verpleegkundige) en Abraham Mampa (bedryfsbestuurder).


Eenvoudige veranderings aan jou eetgewoontes is ’n sleutel tot beter gesondheid.

Gesondheidswerkers maak dikwels aanbevelings oor hoe pasiënte en hul gesinne so gesond as moontlik kan bly, en personeel by die Worcester- hospitaal volg opnuut hul eie raad.

Jaydee Issel sê sy het besef jy moet gesonder eetgewoontes reg deur jou dag toepas, en nie eers wanneer jy klaar gewerk het vir die dag nie. Sy is een van ’n paar personeellede by die hospitaal wat onlangs ingeskakel het by ’n program vir personeel van die Wes-Kaapse departement van gesonheid en welstand om gesonder te leef. Hulle motiveer nou ander kollegas om ook gesonder keuses te maak. “Ons kan nie wag totdat ons by die huis kom nie – daar het ons ander verantwoordelikhede. Ons moet mekaar hier (by die werk) ondersteun,” vertel sy.

“Almal is só besig. Jy sit nie altyd nie, en gryp net wat die naaste is.” In die afdeling waar sy werk, het dit ’n gewoonte geraak om op sommige Vrydae koek te eet. Hierdie gewoonte word nou vervang met ’n nuwe instelling: Almal bring op Vrydae vars vrugte. Personeel wat naby winkels woon of makliker toegang tot vars vrugte het, bring ekstra om met ander te deel.

Esther Lategan, ’n dieetkundige by die hospitaal, sê sy is baie opgewonde om te sien dat nog mense passievol geraak het oor ’n gesonder leefstyl, waarvan ’n mens se eetgewoontes net ’n deel is. “Jy hoef nie perfek te eet nie – kry net ’n balans,” sê sy. Sy beveel aan dat mense een of twee aspekte kies om op te fokus en haalbare doelwitte stel.

“Dit sál inspanning kos. Maar kies liewer twee veranderings en hou daarby.”

Sy beveel aan mense wat oorgewig is, vir ’n begin ’n doelwit stel, soos om 5% van hul liggaamsgewig te verloor. As jou gesin of vriende jou ondersteun, sal dit jou motiveer om vol te hou. Sy gee nog wenke:. Begin jou dag met hawermout (oats) eerder as versoete kitspap of brood.. Besluit om elke dag twee vrugte te eet en om versoete koeldranke en gaskoeldranke uit te sny.. Drink koffie of tee sonder suiker.. Beplan jou etes vooruit sodat jy ’n gesonder opsie byderhand het.. Pak gisteraand se oorskiet-kos in vir die volgende dag se middagete by die werk, dan het jy ’n gesonde maaltyd byderhand.. Koop vrugte wat in seisoen is (dit kos ook minder).. Kies volgraan-opsies soos volgraanbrood eerder as byvoorbeeld witbrood.

Behalwe vir aanpassings aan jou eetgewoontes, moet jy ook meer aktief wees. Kenners beveel aan dat jy die meeste dae van die week doelbewus fisiek aktief moet wees. Jy kan byvoorbeeld 30 minute per dag tyd maak om saam met jou kinders sokker speel of dans.

Jaydee gebruik nou die trappe eerder as die hysbak.

Van haar kollegas het met joga begin en Abraham Mampa het begin om oefeninge soos opstote en skêrspronge te doen.

“Ek het die afgelope drie jaar geleidelik gewig opgetel. Tussen die besige program by die werk en die huis is daar nie tyd vir gimnasiums nie,” vertel hy.

“Ek was moeg en het nie goed geslaap nie. Ek het baie spanning gehad en dit was nodig om te begin om my gesondheid te verbeter. Ek oefen nou by die huis sonder enige toerusting. Ek probeer die afgelope ses tot agt weke om elke dag so tien minute in die oggend en tien minute in die aand te oefen. Ek drink ook baie water – minstens twee liter per dag.”

Hy het reeds byna twee kilogram verloor. “Oefening móét deel van ons leefstyl wees. As dit nie is nie, kan die aanmoediging van familie en vriende ons help om dit deel van ons lewe te maak. Ek word gemotiveer deur aan my gesin te dink. Ek wil beter gesondheid hê sodat ek my lewe met my gesin kan geniet.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article