Hoë volumes en hoëgehalte tafeldruiwe kan op winkelrakke verwag word, maar wind en weer het tot dusver ‘n beduidende uitwerking op hierdie seisoen. Só verduidelik Liezl Jonker verbonde aan die Bergrivier-tafeldruif-produsentevereniging.
Die tafeldruifseisoen vir produsente van onder meer die Paarl, Wellington, Halfmanshof/Porterville, Riebeek-Kasteel en Piketberg geskied grootliks van middel Desember tot die einde van Maart. Dié seisoen is egter met bykans sewe tot tien dae vervroeg weens warm weersomstandighede, wat uiteindelik ook ‘n bottelnek-uitwerking gehad het. Verskeie kultivars is gelyk gereed om geoes te word. ” ‘Bottelnekke’ word al vroeg hier en daar ervaar om alle druiwe betyds gesny en deur die pakstore te kry,” verduidelik Jonker.
Niël Kirsten van JD Kirsten in die Paarl is dit eens die seisoen het vroeër begin met die piek-weke wat nou hier is. Volgens hom bestaan verskeie teorieë, maar ‘n ongewoon warmer, droeër en winderige November in aanloop tot die seisoen het gewis tot die vroeë seisoen bygedra.
“Sekere druifsoorte, wat volgens die kalender drie weke uitmekaar is, is dié seisoen gelyk gereed.”
Selfs hul grondkundiges sê die evapotranspirasie is hoër as in Februarie 2024 en 2025, wat gewoonlik die warmer maande van die seisoen is.
Die korrelgrootte en gewig van korrels is volgens die produsente ook laer as die vorige seisoen (2024-’25). “Korrelgroottes en die gewig van die korrels is ‘n paar gram en millimeter kleiner as 2024-’25 se seisoen,” sê Jonker.
Aansienklik meer kartonne is wel reeds in dié stadium van die seisoen teenoor die vorige seisoen gepak.
Oesgehalte lyk goed
“Alles het twee weke vroeër begin,” beklemtoon Jonker.
Produsente hoop egter die droë weer duur met die verloop van die seisoen voort.
“Die oes se gehalte lyk goed, maar reën en tafeldruiwe werk nie saam nie.” Kirsten sê egter die meeste produsente maak darem tydelike voorsiening om die nat uit te hou.
Hoewel daar kultivars is waar die suiker nog nie heeltemal reg is nie, lyk die gehalte van die seisoen se oes baie goed, sê Jonker. Volgens haar is dit wel nog te vroeg om te sê watter kultivar tot dusver die beste vertoon.
“Die korrels is ‘n rapsie kleiner, maar die volumes lyk nie te sleg nie,” sê Kirsten.
Mercia Petersen, die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Tafeldruifbedryf (Sati), het met die begin van die algehele seisoen in Oktober bevestig “goeie vrugtegehalte en voldoende volumes word verwag om in die vraag in die land se uitvoermarkte te voorsien”.
Ander uitdagings wat dié seisoen ervaar is, was sterk wind in Desember.
“Die wind in die hawe [Kaap-stad] het ‘n groot uitwerking op die laai van die vraghouers gehad.”
Aan die einde van Desember het Kaapstad se hawe reeds meer as 700 werksure van Oktober tot Desember weens sterk wind verloor, voeg Jonker by.
Sy brei uit en verduidelik hoe die “swak uitlaai” ‘n negatiewe uitwerking op die plaaslike bedryf gehad het.
“Min vrugte het die mark voor Kersfees bereik, wat tradisioneel beter prysvlakke in die handel sou behaal het.”
Uitdagings
“Dit is geen geheim dié seisoen word deur baie uitdagings gekenmerk nie.”
Kirsten meen verskeie faktore dra by tot swak produktiwiteit om die vrugte betyds op die skepe te laai.
Hy meen ‘n ideale seisoen sou wees om op tyd te oes of ‘n rapsie vertraag te wees om die hawens tyd te gee.
Kirsten sê die Oranjerivier, waar sommige produsente reeds in November begin oes het, het reeds ‘n bottelnek ervaar en as gevolg daarvan vrugte gehad wat tot sowat drie weke lank op die hawens gestoor is voordat dit gelaai kon word.
Party piek-weke begin nou eers.
Die Hexriviervallei en Bergrivierstreek begin nou eers met hul piek-weke, voeg Kirsten by.
Volgens die vereniging blyk dit die grootste gedeelte van die Bergrivier se druiwe sal teen begin Maart vanjaar klaar geoes wees.
“Tot dusver lyk die gehalte van die oes baie goed, hoewel die korrelgrootte weens warm weer in November verlede jaar swakker as normaal gaan wees,” sluit Jonker af.
Denene Erasmus, die kommunikasiebestuurder by Sati, het Donderdag (14 Januarie) in ‘n verklaring bevestig die bedryf is steeds van mening dat die verwagte volumes vir uitvoer met 0,6% sal toeneem in vergelyking met die werklik geïnspekteerde volumes van die 2024-’25-seisoen. Die nasionale oesskatting van 79,4 miljoen 4,5-kg-kartonne, met 38,6 miljoen 4,5-kg-kartonne tot op datum geïnspekteer, bly onveranderd.
Sy voeg by hoewel warmer klimaatsomstandighede in sekere streke die seisoen met ‘n paar dae vervroeg het, dit nie die algehele nasionale uitkyk verander nie.
“Die seisoen is op skedule en Suid-Afrika bly welgeplaas om ‘n volhoubare, hoëgehalte-oes wat aan wêreldwye verbruikersvoorkeure in alle markte voldoen, te lewer,” voeg Petersen by.
Volgens Sati sal hulle voortgaan om die seisoen te monitor. “In hierdie stadium kom die bedryf bestendig voor, met produksie en gehalte in pas met aanvanklike voorspellings.”





