Die Wes-Kaapse kanolabedryf bied volgens produsente en landboukenners nuwe geleenthede, ondanks die toenemende druk wat hoë insetkostes en ‘n onsekere landbou-ekonomie op produsente plaas.
Met geel lande net waar jy kyk, meen die landbouprodusent en chemiese adviseur Johan Hanekom dit is in dié stadium nie nodig vir kommer dat kanola ‘n versadigde mark betree of die prys negatief sal beïnvloed nie. Volgens hom het die mark oor die afgelope paar jaar aansienlik verander, met meer kopers wat tot die mark toetree saam met ‘n groeiende vraag na kanola.
Hoewel kanolaproduksie in Noordwes en verder na die noorde onder produsente en rolspelers in die bedryf begin aandag geniet, meen Hanekom die Wes-Kaap het steeds ‘n beduidende voordeel.
“Ons het basies die regte klimaat om kanola op ‘n bestendige grondslag te produseer,” verduidelik hy uit Moorreesbrug. In die noordelike gebiede kan ryp volgens hom ‘n groter risiko vir ‘n winterproduksiestelsel inhou, wat die opbrengspotensiaal beperk.
Hanekom wys daarop dat die mark drie tot vier jaar gelede baie anders gelyk het. Destyds was daar basies net een groot koper en groter aanplantings het ‘n negatiewe uitwerking op die produsenteprys tot gevolg gehad.
“Toe was dit nie eintlik sinvol nie, want hoe meer kanola ons geplant het, hoe swakker het die prys geword. Maar tye het verander.”
Kosteberekening moet gedoen word
Hanekom beklemtoon egter kanola is nie ‘n gewas wat sonder deeglike kosteberekening geplant moet word nie. As produsent én chemiese adviseur het hy ‘n goeie begrip van die kostes verbonde aan die produksie van kanola. Volgens sy berekeninge vir die huidige seisoen moet ‘n produsent ongeveer 1,4 ton kanola per hektaar lewer wanneer die oes aan die hoogste betalende koper verkoop word, bloot om gelyk te breek met insetkoste soos chemie, arbeid, diesel en kunsmis, om net ‘n paar te noem.
By die koper, wat tans die laagste prys bied, styg dié gelykbreekpunt volgens hom tot ongeveer 1,68 ton per hektaar.
“Kanola is dus nie meer die gewas wat dit in 1998 of 1999 was toe jy probeer het om dit met omtrent een ton per hektaar te laat werk nie,” sê hy. Volgens Hanekom het verbeterde genetika kanola se potensiaal en aanpasbaarheid aansienlik verhoog.
Die prestasie van kanola is ook een van die redes waarom verskeie produsente besig is om hul wisselboustelsel aan te pas en weg te neig van koring, en dan ander gewasse, soos hawer, in die wisselbou in te bring.
Hoewel die hawermark kleiner is, verduidelik Hanekom sy eie boerderystruktuur bied hom die geleentheid om waarde uit die gewas te put deur dit in sy veevertakking te benut.
Alternatiewe manier
Volgens hom bied dit ‘n alternatiewe manier om meer waarde uit dieselfde hektaar te genereer.
“Die realiteit is dat die somme eenvoudig nie meer so goed klop om koring te produseer nie,” sê hy. Hy is ook nie optimisties dat die situasie in die volgende dekade noodwendig drasties gaan verbeter nie.
Hanekom, wat reeds 11 jaar lank boer, sê produsente het deur die jare verskeie beloftes oor onder meer die JSE en die vervoerdifferensiaal gehoor. “Elke jaar voel dit asof dit net moeiliker word.”
Vir hom lê die sleutel egter in aanpasbaarheid.
“Die belangrikste ding vir my is jy as produsent moet bereid wees om aan te pas wanneer omstandighede verander. As jy nie aanpas nie, is jy dalk volgende jaar nie meer op jou plaas nie.”
Hanekom verwag die huidige seisoen gaan ‘n interessante een vir produsente wees. Hy meen min produsente kan tans met sekerheid sê hulle gaan ‘n wins maak.
“Kunsmis en diesel het ons op ‘n manier gevang wat baie min mense verwag het.”
Hy glo daar moet ‘n nuwe benadering tot die verhouding tussen produsente, banke en koöperasies kom en sê die volhoubaarheid van voedselproduksie is ‘n gesamentlike verantwoordelikheid.
“Hoekom kan ons nie die produsente, banke en koöperasies om dieselfde tafel kry en sê: ‘Reg manne, ons kan nie bekostig om ons voedselproduksiestelsel te verloor nie. Wat kan ons saam doen om produsente deur hierdie moeilike tyd te help? En wat kan produsente op hul beurt doen om die banke en koöperasies te help?’ ”
Hanekom waarsku die volgende jaar kan moontlik selfs nog moeiliker wees. Ten spyte van die uitdagings sê hy produsente moet positief probeer bly en voortgaan om hul boerderypraktyke aan te pas.
Hy sê die behoefte aan ondersteuning vir die emosionele en geestelike welstand van produsente is groter.
Kanola een van Wes-Kaap se suksesse
Wandile Sihlobo, die hoofekonoom van Suid-Afrika se landbousakekamer, Agbiz, en die presidensiële gesant van landbou en grond, is positief oor vanjaar se kanola-oes en meen dié gewas is een van die Wes-Kaap en die land se grootste suksesverhale.
“Sedert Suid-Afrikaanse produsente in 1998-’99 met kommersiële kanolaproduksie op 17 000 hektaar begin het, het die aangeplante oppervlakte tot ‘n geraamde 174 515 hektaar in 2025-’26 gegroei. Vir dié jaar se 2026-’27-seisoen het die aangeplante oppervlakte verder tot ‘n geraamde 192 300 hektaar toegeneem.”
Sihlobo sê dit is belangrik om die dryfvere agter die toename in kanola-aanplantings in ag te neem wanneer daar net geel is waar jy kyk, en dit is die plaaslike groei in die vraag na, of gebruik van, olies en oliekoek.
In sommige gebiede het produsente ook onlangs as gevolg van die hoër winsgewendheid daarvan van koring na kanola oorgeskakel,” bevestig Sihlobo.
Suid-Afrika is tans ‘n netto-uitvoerder van kanola nadat boere die afgelope paar jaar onder meer na lande soos Duitsland en België uitgevoer het, brei Sihlobo uit.
“Kanola is ‘n wintergewas en word daarom hoofsaaklik in die Wes-Kaap verbou, wat ‘n winterreënvalstreek van Suid-Afrika is. Wanneer die toename van 10% in kanola-aanplantings teenoor die vorige seisoen in ag geneem word, kan Suid-Afrika – indien ons relatief gunstige weerstoestande en ‘n goeie opbrengs ervaar – ‘n oes van ongeveer 363 447 ton behaal. Dit is gegrond op die vyfjaar-gemiddelde opbrengs van 1,89 ton per hektaar en sal ‘n toename van 19% teenoor die vorige seisoen verteenwoordig.
“Dit kan ‘n nuwe rekord wees.”
Hy benadruk dit is steeds te vroeg om met sekerheid te sê hoe groot die kanola-oes uiteindelik gaan wees.
“Die huidige weerstoestande en dele van die Wes-Kaap wat nie voldoende reën ervaar het nie, sal onder meer die deurslaggewende faktor wees.”
André Kirsten, ‘n produsent van Darling en verteenwoordiger van Agri SA, sê plaaslike produsente is aan die uitvoermark uitgelewer. “Ons is reeds in ‘n surplusproduksie. Die groot probleem wat tans ervaar word, is die oliekoek. Die oliekoekmark blyk wel versadig te wees nadatdie pryse van sojakoek geval het en die sojakoek en die kanola-oliekoek wat nou met mekaar moet meeding.”
Hy is dit eens kanola is tans die beter bedryf om in te belê as koring. “Ek sal eerder kanola saai. Daar is ‘n bietjie meer uitdagings met kanola, maar die plant hanteer die droogte beter.”
Hy sug en sê sou die reën wat vir die afgelope week voorspel is, nie verdwyn het nie, sou dit ‘n groot verskil in kanola- én koringproduksie gemaak het.





