MONTAGU – Die familie van ‘n jongman van dié dorp wat die afgelope Maandag (17 Augustus) sy 21ste verjaarsdag sou vier, is verpletter nadat hy Vrydag (14 Augustus) in ‘n dam by die vakansie-oord waar hy gewerk het, verdrink het.
Die oorledene, Marshall Stander (20), se hartseer pa, Cornelius Soldaat (56), vertel aan Standard Breederivier Gazette dat ‘n kollega van Stander hom Vrydag meegedeel het dat Stander nie opgespoor kan word nie en dat sy pet en oorfone op die water in die dam by die vakansie-oord dryf. Sy kossak het op die oewer van die dam gestaan.
Die kollega het hom voorts meegedeel dat Stander vroeër besig was om onkruid naby die dam uit te trek.
“Toe ek daar aankom, het ek om die dam gestap. Ek dink toe by myself ‘as julle my kind se keppie en oorfone op die dam sien dryf het, dan moet hy in die water wees. Ek glo nie Marshall kon swem nie.”
Volgens Soldaat is sy grootste vrees bewaarheid toe polisieduikers Stander se lyk omstreeks 18:00 uit die water gehaal het.
“Toe hulle my seun uithaal, het ek aan die huil geraak. Ek het na my seun toe gegaan. Ek was deurmekaar. Ek het die plastiek waarin hulle hom toegedraai het, oopgemaak. Ek het my arms onder sy bolyf gesit en dit opgelig, met sy kop wat agter- oor hang. Ek het gehuil en vir hom gevra ‘Marshall, wat het gebeur’?”
Volgens Soldaat het hy kort hierna sy ander seun, Ashwin Stander (23), gebel en hom gevra om Marshall se ma, Maria Stander (45), tot daar te bring.
Soldaat sê toe sy vrou en Ashwin by die toneel aankom, het hulle die heeltyd verskriklik gehuil. Sy vrou het net aanhoudend gesê: “My kind, wat het gebeur?”
Soldaat sê nadat die forensiese span hul werk afgehandel het, is hy, sy vrou en vriende van Marshall by sy lyk toegelaat.
“My vrou het nader gegaan, maar agter my bly staan. Sy het nie ‘n woord gesê nie – net gehuil.”
Marshall se vriende het om sy lyk gestaan. Ek het later Marshall se oë toegemaak.”
Volgens Soldaat het sy seun sowat drie weke gelede by die betrokke vakansie-oord begin werk.
Sou vleis en wors koop
Hy sê Marshall het baie uitgesien na sy 21ste verjaarsdag. Volgens Soldaat het hy en sy vrou vroeër reeds sy seun se verjaarsdagklere en -skoene gekoop. Hy sê as deel van Stander se verjaarsdaggeskenk het hy vir hom R1 000 in sy bankrekening gedeponeer.
“Marshall het gesê as hy Vrydag (14 Augustus) pay, gaan hy vleis en wors vir sy verjaarsdag koop. Hy het al sy vriende, tot die bure ook, genooi. Hy het nog gesê as hy Maandagaand by die huis kom, moet ons al besig wees met die braai.”
Soldaat het Dinsdag aan Standard Breederivier Gazette gesê Marshall se familie en vriende het sy verjaarsdag Maandag (17 Augustus) in sy (Marshall se) afwesigheid gevier. “Ek het ‘n sjokoladekoek en tert gekoop. Dit was baie hartseer vir ons, want hy was nie daar nie.”
Marshall se begrafnisdiens is Saterdagoggend (22 Augustus) om 09:00 by Du Preezstraat 75 en 10:00 in die Montagu-gemeenskapsaal.
Volgens kapt. FC van Wyk, ‘n polisiewoordvoerder, het die polisie in Montagu ‘n geregtelike doodsondersoek-dossier geregistreer ná die dood van ‘n 20-jarige man by ‘n perseel in Langstraat, Montagu, op 14 Augustus.
Van Wyk sê die polisie in Montagu het ‘n oproep oor ‘n verdrinking by die bogenoemde adres ontvang. Met hul aankoms het hulle vasgestel die oorledene was ‘n werknemer wat besig was om sy pligte op die perseel uit te voer.
Nooddienspersoneel is gekontak en die man se liggaam is kort daarna uit die water gehaal. Volgens Van Wyk word die voorval ondersoek. ‘n Lykskouing sal gehou word om die presiese oorsaak van die man se dood vas te stel.





