MONTAGU – ‘n Jong man van Montagu wat Maandag (17 Augustus) sy 21ste verjaarsdag sou vier, se familie is verpletter nadat hy Vrydag (14 Augustus) verdrink het in ‘n dam by die vakansie-oord waar hy gewerk het.
Die oorledene, Marshall Stander (20), se hartseer pa, Cornelius Soldaat (56), vertel aan NovaNews dat ‘n kollega van Marshall hom meegedeel dat Marshall nie opgespoor kan word nie en dat sy pet en oorfone op die water in die dam by die vakansie-oord dryf. Sy kossak het op die oewer van die dam gestaan.
Die kollega het hom voorts meegedeel dat Marshall vroeër besig was om onkruid naby die dam uit te trek. Sy het ook vir hom gesê dat hulle Marshall nêrens kon opspoor nie.
“Toe ek daar aankom het ek om die dam gestap. Ek dink toe by myself ‘as julle my kind se keppie en earphones op die dam sien dryf het, dan moet hy in die water wees. Ek glo nie Marshall kon swem nie.’ “
Volgens Soldaat is sy grootste vrees bewaarheid toe polisieduikers Marshall se lyk omstreeks 18:00 uit die water gehaal het.
“Toe hulle my seun uithaal, het ek aan die huil geraak. Ek het na my seun toe gegaan. Ek was deurmekaar. Ek het die plastiek waarin hulle hom toegedraai het, oopgemaak. Ek het my arms onder sy bolyf gesit en dit opgelig, met sy kop wat agteroor hang. Ek het gehuil en vir hom gevra ‘Marshall, wat het gebeur?’”
Volgens Soldaat het hy kort hierna sy ander seun Ashwin Stander (23) gebel en hom gevra om Marshall se ma, Maria Stander (45), tot daar te bring.
Soldaat sê toe sy vrou en Ashwin by die toneel aankom, het hulle die heeltyd verskriklik gehuil. Sy vrou het net aanhoudend gesê: “My kind, wat het gebeur?”
Soldaat sê nadat die forensiese span hul werk afgehandel het, is hy, sy vrou en vriende van Marshall by sy lyk toegelaat.
“My vrou het nader gegaan, maar agter my bly staan. Sy het nie ‘n woord gesê nie – net gehuil. ” Marshall se vriende het om sy lyk gestaan. Ek het later Marshall se oë toegemaak.”
Volgens Soldaat het sy seun sowat drie weke gelede by die betrokke vakansie-oord begin werk.
Hy sê Marshall het baie uitgesien na sy 21ste verjaarsdag. Volgens Soldaat het hy en sy vrou reeds sy seun se verjaarsdagsklere en -skoene gekoop. Hy sê as deel van Marshall se verjaarsdaggeskenk het hy vir hom die afgelope week R1000 in sy bankrekening gedeponeer.
“Marshall het gesê as hy Vrydag (14 Augustus) pay gaan hy vleis en wors koop vir sy verjaarsdag. Hy het reeds al sy vriende, tot die bure ook, genooi. Hy het nog gesê as hy Maandagaand by die huis kom, moet ons al besig wees met die braai.”
“Ons gaan Maandag braai, want dit is wat hy wou gehad het.”
NovaNews het na die polisie uitgereik en wag nog vir kommentaar.






