SAPS Search and Rescue Unit
Foto ter illustrasie.

Bejaarde branderplankeryer sterf tydens ‘n kompetisie by Jongensfontein


‘n Branderplankryer is Vrydagmiddag (14 Augustus) in Jongensfontein dood nadat hy op die water bewusteloos geraak.

Volgens Craig Lambinon, ‘n woordvoerder van die nasionale seereddingsinstituut (NSRI), het die 61-jarige man van Stellenbosch ten tyde van die voorval aan ‘n branderplankkompetisie deelgeneem.

Lambinon sê dit blyk dat die man bewusteloos geraak het terwyl hy branderplank gery het.

Volgens hom het mede-branderplankryers die man na die strand gebring en met noodhulp begin.

Die NSRI se span in Stilbaai is omstreeks 14:00 na Sandstrand ontbied.

Volgens Lambinon het die NSRI-reddingsvaartuig Breede Rescuer, wat reeds in die omgewing was, na die toneel gehaas en twee bemanningslede het na die kus geswem om met die kardiopulmonale resussitasie (KPR) pogings te help.

NSRI-bemanningslede en paramedici van die Wes-Kaapse regering se nooddienste het ook op die toneel opgedaag.

Ondanks uitgebreide KPR-pogings is die man op die toneel dood verklaar.

Die polisie het ’n geregtelike doodsondersoek geopen. Die man se liggaam is aan die polisie en die regering se forensiese patologiedienste oorhandig

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article