‘n Jong paartjie se visvanguitstappie na Tietiesbaai by Paternoster het Dinsdag 7 Oktober weens ‘n fratsbrander skielik in ‘n tragedie verander toe hulle albei in die yskoue water beland het.
JP Louw (26) het glo alles probeer om by sy meisie, Danielle “Dani” van Wyk (25), uit te kom, maar is deur die sterk seestroom al verder weggesleur.
Volgens Johann Mostert, Louw se kollega by AM-sekuriteit op die dorp, het hy later dit reggekry om aan wal te klouter met verskeie sny-en skaafmerke aan sy lyf. Hy het probeer bel, maar het nie sein gehad nie en moes daarom dorp se kant toe ry om sein te kry.
Mostert was een van die eerste mense wat hy gebel het en wat toe gereël het dat die nodige nooddienste, die polisie en wetstoepassing hulle na die toneel haas. “Dit was tussen 10-15 minute toe was almal daar.”

Van die kant af kon hulle eers nie vir Van Wyk sien nie, maar het haar na ‘n tyd gesien dryf.
Die plek waar die paartjie visgevang het in die Kaap Columbine-natuurreservaat, is ‘n gewilde visvangplek vir Weskussers en toeriste, maar is berug vir hoe diep die water daar is.
Mostert het gesê daar is ook ‘n hommeltuig ingespan om dop te hou waar Van Wyk haar bevind totdat die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) se St Helenabaai- en Mykonos-spanne haar liggaam uit die water kon kom haal.
Volgens Craig Lambinon, NSRI-woordvoerder, is diensspanne omstreeks 15:47 geaktiveer nadat aanvanklike berigte aangedui het ‘n boot het moontlik by Tietiesbaai omgeslaan.
Paramedici van die West Coast Medical Rescue het intussen vir Louw op die toneel medies behandel voordat hulle hom per ambulans na die hospitaal geneem het.
Hulle het die NSRI-reddingsvaartuig by die St Helenabaai-hawe gekry, waar hulle Van Wyk as dood verklaar het. Haar liggaam is hierna in die sorg van die Forensiese Patologie Dienste oorgegee.
Mostert meen Louw is erg geskok deur die voorval. Hy sterk by sy familie in die Paarl aan.
Inwoners beskryf Van Wyk as ‘n gewilde, borrelende jong mens.
Volgens kapt. Tania Helfrich, distrikswoordvoerder van die Weskus-polisie, is ʼn geregtelike doodsondersoek geopen.







You must be logged in to post a comment.