NovaNews

Wind en warm weer dra by tot uitdagende 2026 druif-seisoen

Kwaliteit tafeldruiwe kan op winkelrakke verwag word, maar wind en warm weer het tóg ‘n effek op dié 2025/26-seisoen. Só verduidelik Liezl Jonker verbonde aan die Bergrivier Tafeldruif-produsentevereniging.
Die wind en warm weer het ‘n beduidende invloed op vanjaar se druif-oes. FOTO: Lise Beyers

Kwaliteit tafeldruiwe kan op winkelrakke verwag word, maar wind en warm weer het tóg ‘n effek op dié 2025/26-seisoen. Só verduidelik Liezl Jonker verbonde aan die Bergrivier Tafeldruif-produsentevereniging.

Die tafeldruifseisoen vir produsente van onder meer die Paarl, Wellington, Halfmanshof/Porterville, Riebeek-Kasteel en Piketberg geskied grootliks vanaf middel Desember tot einde Maart. Dié seisoen is egter met bykans sewe tot tien dae vervroeg weens warm weersomstandighede wat uiteindelik ‘n bottelnek-effek te weeg gebring het. Verskeie kultivars is gelyk gereed om geoes te word. “Daar word hier en daar al vroeg die “bottelnekke” ervaar om alle druiwe betyds gesny en deur die pakstore te kry,” verduidelik Jonker.

Die korrelgrootte en gewig van korrels is volgens die produsente se terugvoer ook laer as die vorige seisoen (2024/25). “Korrelgroottes en gewig van die [druiwe]korrrels is met ‘n paar gramme en millimeters kleiner as 2024/25 se seisoen.” Aansienklik meer kartonne is wel reeds in die stadium van
die seisoen teenoor die vorige seisoen gepak. “Alles het amper twee weke vroeër begin,” beklemtoon sy. Produsente hoop egter die droë weer duur met dié verloop van dié seisoen voort. “Reën en tafeldruiwe werk nie saam nie. Druiwe bars van reën en koue.”

Kwaliteit lyk goed

Hoewel daar kultivars is waar die suiker nog nie heeltemal reg is nie, lyk die kwaliteit van die seisoen se oes baie goed. Volgens Jonker is dit nog te vroeg om te sê watter kultivar tot dusver die beste vertoon. Mercia Petersen, die uitvoernede hoof van die Suid-Afrikaanse Tafeldruif Industrie (SATI) het met die afskop van die algehele seisoen in Oktober bevestig goeie vrugtegehalte en voldoende volumes word verwag om aan die vraag in in die land se uitvoermarkte te voldoen,”

Ander uitdagings wat tydens die seisoen ervaar was, was sterk winde in Desember 2025.
“Die wind in die hawe [Kaapstad] het ‘n groot effek op die laai van die vraghouers gehad.” Aan die einde van Desember het die Kaapstad se hawe reeds oor die 700 werksure vanaf Oktober tot Desember weens sterk wind verloor, voeg Jonker by. Sy brei uit en verduidelik hoe die “swak uitlaai” ‘n negatiewe effek op die plaaslike industrie gehad het.

“Min vrugte het die mark voor Kersfees bereik wat tradisioneel beter prysvlakke in die mark behaal het.” Sy meen daar word verder ‘n bottelnek met vrugte vanuit die Berg -en Oraniarivier se omgewing voorsien wat druk op die mark gaan plaas. Volgens die vereniging blyk dit dat die grootste gedeelte van die Bergriver se druiwe teen begin Maart vanjaar klaar geoes sal wees.

“Tot dusver lyk die kwaliteit van die oes baie goed, alhoewel die korrelgrootte weens warm weer in November verlede jaar swakker as normal gaan wees,” sluit sy af.

LEES OOK: Three fires rage across Cape Winelands district; fueled by strong winds

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article