Daniël Swanepoel praat onlangs op ‘n geleentheid van Trauma2Triumph. Foto: Ari Arends/Tasjari Photography

Hy is twee keer verkrag – eers op 16-jarige ouderdom en toe op 39 toe hy direkteur van ‘n raadgewende firma was en op die raad van een van die wêreld se grootste gebeure-maat­skappye (events companies) gedien het.

Hierdie traumatiese gebeure het die 48-jarige Daniël Swanepoel van Laingsburg destyds so ‘n geweldige knou toegedien dat hy in die middel van ‘n belangrike korporatiewe funksie ‘n public meltdown gehad het.

Die eerste verkragting het plaasgevind by ‘n gesogte gastehuis waar hy gewerk het – toe hy maar net 16 jaar oud was.

Sy aanvaller was glo ‘n bekende sakeman.

Die tweede voorval was toe hy na sy huis in Woodstock op pad was nadat hy saam met ‘n vriend in die middestad van Kaapstad uit was vir ete.

Vandag is Swanepoel ‘n baken van hoop. Hy is deesdae nie net by geslagsgebaseerdegeweld-aangeleenthede en gemeenskapsontwikkeling betrokke nie, maar dien ook op die raad van Trauma2-Triumph, ‘n organisasie sonder winsbejag.

Die organisasie het ten doel om ‘n sterk ondersteuningsnetwerk vir vroue te bou wat verlies en trauma ervaar het.

Die skep voorts ‘n veilige ruimte waar vroue vertroosting, genesing en bemagtiging kan vind.

Swanepoel het aan Standard vertel dat hy op 13 September 2016 saam met ‘n vriend vir ete in De Waterkant, Kaapstad, uit was.

Hy het na afloop van die kuier ‘n huurmotor gehaal, wat veronderstel was om hom na sy huis in Woodstock te neem.

Die bestuurder van die betrokke taxi het vir hom gesê hy is van die Kongo.

Vir dood agtergelaat

Swanepoel sê na aanleiding van sy gesprek met die betrokke bestuurder kon hy agterkom die man is baie kwaad – kwaad vir “iemand of iets”.

“Hy [die bestuurder] het skielik oor Suid-Afrika en sy mense begin uitpak.

“Ek sê toe vir hom ‘almal is nie so sleg nie; daar is goeies ook’.

“Die volgende oomblik toe vaar hy uit oor die hele gay-ding. Hy het gesê gay mense is slegte mense wat doen wat hulle nie mag doen nie. Ek het besef hier is groot fout.

“Ek het hom ‘n paar keer gevra dat ek wil uitklim. Hy het my baie mooi laat verstaan dit sal nie gebeur nie.

“Dis toe ek besef hierdie aand gaan nie goed eindig nie.

“So iewers tussen Woodstock en Soutrivier het hy die kar gestop en uitgeklim. Dit was in ‘n donker straatjie.

“Hy het my gegryp en gesê ‘If you want to be a woman, I will show you what a real man does to his woman’.

“Die volgende oomblik toe is ek lights out.

“Toe ek later bykom, het ek besef hy is nou weg. Ek is verkrag en uitmekaar uitgeslaan.

“Hy het my basies vir dood agtergelaat – net daar langs die pad.”

Swanepoel het sukkelend opgestaan en tot by ‘n besige straat gestrompel.

Hy vertel hy het van hier op ‘n manier by sy huis uitgekom. Eers toe, vertel hy, het die werklikheid vir die eerste keer by hom ingeskop.

“Vir die eerste keer was die pyn oorweldigend – daai wrede pyn; ‘n fisieke en emosionele pyn.”

Swanepoel het die volgende dag na ‘n Men’s Clinic gegaan, waar hy medikasie ontvang het.

Hy sê hoewel hy later polisie toe ook is, het hy nietemin besluit om nie met die saak voort te gaan nie.

“Ek het nie werklik kans gesien om met iemand te baklei nie.

“Ek het teruggekeer na my normale lewe en soos ‘n mal mens aan die werk gegaan. In Oktober het die wiele begin afval.

“Ek het vreemd geraak en alles intens begin doen.

“Ek het ‘n tipe van ‘n public meltdown by ‘n groot events conference, waar een van my groot kliënte ook was, gehad.

“Ek het opgestaan en met die mense daar begin gesels oor Black Lives Matter – dat ons in die moeilikheid is en dat die wêreld in ‘n krisis is.”

Swanepoel sê vir die eerste drie maande tuis, terug in die Karoo, kon hy nie by sy huis uitgaan nie, omdat hy bang was dat daar enige tyd iets fisiek met hom kon gebeur.

Hy het eers toe, in die stille Karoo, by maatskaplike ontwikkeling betrokke geraak.

‘Sulke goed gebeur sodat jy ander kan help’

“Niemand het geweet wat gebeur het nie. Ek het maar eers later met mense oor my trauma begin gesels.”

Swanepoel sê toe hy op 16-jarige ouderdom verkrag is, het hy nooit werklik begryp wat gebeur het nie.

“Met die tweede verkragting was dit asof ek vir die eerste keer begin process het wat gebeur het toe ek destyds 16 was en dat dít wat gebeur het, nie my fout was nie.

“In my laat 20’s – ná die eerste voorval – het ek baie [alkohol] begin drink en dwelms gebruik oor ek ‘n escape mechanism probeer vind het.”

Hy sê as gevolg van sy ineenstorting het hy bloot “weggestap” van die raadgewende firma en gebeure-maatskappy.

“Wanneer ek nou terugkyk, was dit eintlik ‘n seëning dat ek net weggestap het.”

Swanepoel sê hy besef nou dat die verkragtings iets is wat vir ‘n rede op sy pad gegooi is.

“Soms word hierdie goed op jou pad gegooi omdat jy daardeur sal kan stap – in die hoop dat jy eendag iets daarmee vir ander kan doen.”

Swanepoel vertel dat hy aan die begin baie nagmerries gehad het oor wat met hom gebeur het, maar gelukkig nie meer nie.

“Dit was hel. Ek kon nie eens slaap nie. Ek was soos ‘n mal mens. Dis nou ná die tweede voorval.

“Ek het sommer in die middel van die nag uit die bloute my ouerhuis begin skoonmaak.

“Dit was nou nadat ek klaar was met dwelms.”

Swanepoel sê hy wil vanjaar by ‘n plek uitkom waar hy openlik met jongmense oor seks en dwelms en die gevare wat daarmee gepaardgaan, sal kan gesels.

“Ek wil hulle [die jongmense] sover kry om te weet wat om in sulke situasies te doen sodat hulle betyds kan wegstap, voordat dit ‘n probleem begin raak.”

Swanepoel sê deesdae gaan dit baie goed met hom.

“Dit help om met mense te praat, want ek het begin besef baie mense is op my pad geplaas omdat hulle verstaan of dalk deur iets soortgelyk is.”

Volgens hom is hy glad nie meer kwaad vir sy aanvallers nie.

“Aan die begin was ek kwaad, maar ek dink ‘n mens kom op ‘n plek waar jy moet besef you let go of what happened and your anger for the person to make it better for yourself.” – Enrico Claassen

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article