Die oud-Springbokstut Balie Swart maak spelers van Villagers Montagu (Sesduim) touwys. Regs van Swart kyk Elvan Verhoog (die hoofafrigter van Sesduim) toe. Die oud-Bok het die manne met ‘n geestelike boodskap en handige skrumtegnieke aangemoedig. Foto: Norman Evertson

Sesduim skrum saam met oud-Bok Balie Swart

Die oud-Springbokstut Balie Swart maak spelers van Villagers Montagu (Sesduim) touwys. Regs van Swart kyk Elvan Verhoog (die hoofafrigter van Sesduim) toe. Die oud-Bok het die manne met ‘n geestelike boodskap en handige skrumtegnieke aangemoedig. Foto: Norman Evertson

Die voormalige Springbokstut Balie Swart het verlede Donderdagaand (10 September) sy kennis en ervaring met spelers van Villagers Montagu – algemeen ­bekend as Sesduim – tydens ‘n oefensessie gedeel.

Swart (63) het van 1993 tot 1996 in altesaam 16 toetse vir die Springbokke uitgedraf en oor die vermoë beskik om vaskop- sowel as loskopstut te speel.

Sesduim is tans hard besig met voorbereiding vir sy opkomende promosiekragmeting teen Protea RVK van De Doorns, of Prouks, soos hy ook bekendstaan. Dié wedstryd word eerskomende Saterdag (19 September) om 14:00 in Ceres gespeel.

Stanley Burger, Villagers Montagu se voorsitter, het dié voormalige Bokstut genader om veral die voorspelers se skrumwerk te help slyp.

Swart, ‘n wedergebore Christen, het voor die oefensessie eers die spelers en ondersteuners tydens ‘n kort gebedsessie met ‘n geestelike boodskap bemoedig.

“Ek het my hart op 13-jarige ouderdom aan die Here gegee,” het hy gesê voordat hy kortliks oor verskeie aspekte, onder meer waardes soos verantwoordelikheid en respek, gepraat het.

Voorts het hy gesê ‘n mens moet deurentyd “uitstekend na uitstekendheid-wees strewe”, ondanks die feit dat almal wel foute begaan.

Ná sy inspirerende praatjie het die voormalige Bok die spelers onder hande geneem en hulle ‘n paar handige skrumtegnieke gewys.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article