Die rol van vlakkiekrieket in ons gemeenskappe mag nie onderskat word nie – dit is nou die jongman wat sy tyd op die oefenveld deurbring eerder as met dwelms; die moeder wat haar seun sien goed doen wanneer hy ’n paaltjie laat kantel en selfs die bendelid wat opkyk na die jongmanne wat vlakkiekrieket speel.
Dit kan dalk vreemd klink, maar bendelede het die grootste respek vir die rolspelers wat by hierdie sportsoort betrokke is. Hulle dra kennis van die glimlagte wat voorkom, soos in die foto, en wat dit kos om hierdie jongmanne te sien lag. Dis iets wat daagliks by Clovers plaasvind, volgens die voorsitter, Awie Booysen.
Spanlede het op 28 Februarie inderdaad breed geglimlag tydens hul klere-oorhandiging, ’n geskiedkundige dag vir dié vlakkiekrieketspan.
Volgens Booysen was 2021 ’n briljante jaar vir die klub, maar hy glo dat 2022 selfs beter sal wees indien hulle nederig bly en op die Here staatmaak. “God was nog altyd die middelpunt van hierdie klub; die ruggraat, en dis iets wat nooit sal verander nie.”
Die bestuur van Clovers het Ashley Dreyden, Adrian du Toit en Aasif Witbooi bedank, wat ’n groot rol vertolk het in die sukses van die oorhandigingsgeleentheid.
“Dis rolmodelle wat dit al gesien gebeur het en nie geskroom het om hul persoonlike ervaring met die jongmanne te kom deel nie,” sê die voorsitter.





