Dis ’n toernooi wat as gevolg van verskeie faktore langer as gewoonlik geduur het, maar ten einde moes dit een of ander tyd voltooi word. Dit was Sondag (14 April) die geval toe Clovers die Paasnaweek-Vlakkiekrieket-toernooi voor ’n volgepakte Eden Garden in Roodewal gewen het.
Hierdie toernooi word jaarliks deur die Breedevalleise gemeenskapskrieketvereniging gereël en lewer altyd groot opwinding in Worcester.
As voorsitter van die vereniging wil Leon Hermanus graag die Kaapse Wynland-munisipaliteit bedank vir die borg van die medaljes en die trofeë.
Voor die eindronde het die juniors eers sake in hul eindstryd uitgespook. Dit was ’n stryd tussen Quickies en Pro-Eagles, met Quickies wat as wenners weggestap het. Ongelukkig kon hul seniors nie by hulle kers opsteek nie. Hulle het vroeër in die dag vasgeval teen ’n vasbeslote View Giant, terwyl Clovers vir Zazon United in die halfeindronde ore aangesit het.
View Giants en Clovers het ’n lang geskiedenis. Dis spanne wat altyd vir vermaak en intense wedstryde sorg. Maar dit was nie die geval in die eindronde nie.
Fyrin Hendricks, die Clovers-kaptein, het die loot gewen en besluit eerste te kolf. Ná ’n wankelrige begin kon View Giants ’n stewige 82 lopies aanteken in hul toegelate 90 balle. Dit was ongelukkig te min lopies om die sterk kolflys van Clovers onder druk te plaas, met ’n bestendige Mario Marinus wat 68 lopies aangeteken het en ’n koel en kalm Warren Davids wat 14 van slegs 12 balle aangeteken het.
Hierdie vennootskap het View Giant se wind behoorlik uitgeslaan, wat daartoe gelei het dat Clovers met agt paaltjies gewen het.
“Dit was vir Roodewal. Ons mense. Dit was vir God”, het die Speler van die Wedstryd, Mario Marinus, gesê.





