Die BVM se burgemeester, Antoinette Steyn (middel agter) saam met die seëvierende vlakkiekrieketspan van Clovers. Foto: Luciano du Toit

Credit: SYSTEM Credit: SYSTEM

“ ’n Puik toernooi. Dit was verblydend om deel te wees van só ’n goed georganiseerde toernooi, en dit is juis sulke inisiatiewe waarin die Breedevallei-munisipaliteit wil belê omdat jongmense hierdeur verryk word en in die samelewing uitstyg.”

Dit was die woorde van BVM se burgermeester, Antoinette Steyn, ná Sondag (12 Februarie) se Burgemeesters-Vlakkiekrieket-eindstryd.

Hordes Worcesteriete het na Roodewal opgeruk om hul gunsteling-vlakkiekrieket-spelers juigend te ondersteun in die eindstryd tussen Clovers en Zazon United, wat groot opwinding opgelewer het.

Vooraf het Young Stars vir Pro-Eagles ore aangesit om die derde plek te beklee.

Met die wegtrek van die eindstryd was geluk reeds aan Clovers se kant. Fyrin Hendricks, die kaptein van Clovers, het die loot gewen en besluit om Zazon die geleentheid te gun om ’n telling op die telbord te plaas.

Dit het na ’n verkeerde besluit gelyk toe die openingskolwers van Zazon die telbord behoorlik aan die gang gehou het. Dit was egter net totdat Hendricks besluit het om self die bal te vat. Die kaptein se eerste bal het daartoe gelei dat een van die kolwers uitgehardloop is en dit het die momentum drasties laat verander. Ná wat na ’n goeie begin gelyk het om ’n groot telling op die telbord te plaas, kon Zazon slegs 81 in sy toegelate 90 balle aanteken. Elke kolwer het sy deel bygedra met geen spesifieke kolwer wat sy stempel uitsonderlik afgedruk het nie.

Vir Clovers het Charlton Fransman goeie leiereienskappe getoon deur kalm te bly onder druk tydens die laaste boulbeurte.

Hy het in sy toegelate vier boulbeurte slegs 17 lopies afgestaan. Hy is goed ondersteun deur die ervare Eathan Jass, wat ses lopies in twee boulbeurte afgestaan en twee paaltjies laat kantel het.

Javier Visser het 52 lopies aangeteken terwyl Mario Marinus 31 lopies gemoker het. Hierdie twee het Clovers met ’n 10-paaltjie-oorwinning laat wegstap.

“Ons het vandag weer gewys ons kan as ons wil,” was die woorde van Visser, wat ook as die Speler van die Wedstryd aangewys is.

“Vandag was vir Roodewal. Elke seuntjie en meisietjie wat na ons opkyk en vlakkiekrieket op sy of haar hart dra,” het Hendricks, Clovers se kaptein, gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article