Die appel- en peerbedryf in die Wes-Kaap lyk gesond en huidige vooruitsigte dui daarop dat die bedryf goed van die droogte herstel.
Dr. Ivan Meyer, die Wes-Kaapse minister van landbou, sê die huidige vooruitsigte vir appel- en peeruitvoer dui op ’n sektor wat van die uitwerking van die droogte herstel en ’n bydrae tot ekonomiese herstel en werkskepping lewer. “Die tuinbousektor was in die derde kwartaal van 2021 die enigste sektor met ’n positiewe reële bruto inkomstegroei van 9% jaar op jaar, wat die beduidende bydrae van die Wes-Kaap tot die landboubedryf illustreer. Dit wys die kernsektor sal tot indiensneming bydra.”
Die Sagtevrugte-produsentevereniging (Hortgro) bevestig dat die oppervlakte waarop met pere geboer is, in 2020 altesaam 12 913 hektaar beslaan het, en appels altesaam 25 272 ha. “Dit is ’n vermeerdering van onderskeidelik 5% en 4% sedert 2016. Verder het die appel- en peerplase saam 42 756 mense in diens.”
Tshepo Morokong, senior landbou-ekonoom van die Wes-Kaapse departement van landbou, sê die Wes-Kaap lewer ’n aansienlike bydrae tot Suid-Afrika se appel- en peer-uitvoer.
“Die Wes-Kaap dra gemiddeld meer as 85% tot die land se appeluitvoer by. Suid-Afrika se appeluitvoer, wat in 2020 op ’n waarde van R6,6 miljard beraam is, het jaarliks ’n gemiddelde groeikoers van 24% gehandhaaf en die afgelope vyf en tien jaar het dit met onderskeidelik 7% en 13% gegroei.”
Die provinsiale bydrae tot nasionale peeruitvoersyfers vir die afgelope nege jaar was gemiddeld meer as 88%. Suid-Afrika se peer-uitvoer was in 2020 altesaam R3,1 miljard werd en het met 18% vergeleke met die vorige jaar gegroei. Die afgelope vyf jaar was die jaarlikse gemiddelde groeikoers 9%.
Meyer deel ook die kommer van die landbousektor dat ondoeltreffendheid by die Kaapstadse hawe Wes-Kaapse landbou-uitvoer in gevaar stel.
“Hoewel ek tevrede is met die vooruitsigte vir landbou-uitvoer soos appels en pere, bly ek bekommerd oor volgehoue ??berigte van ondoeltreffendheid by die Kaapstadse hawe. Hierdie ondoeltreffendheid vererger die uitdagings wat die sektor ervaar. Dit sluit in handelsfasilitering en die invloed van die Covid-19-pandemie op globale verskepingsbedrywighede.
“Dringende ingryping is nodig om produktiwiteit en doeltreffendheid by die Kaapstad-hawe te verbeter. Dit is om hierdie rede dat die Wes-Kaapse regering sal voortgaan om die Kaapstadse hawe-owerheid en die sektor te betrek om te verseker dat uitdagings wat verband hou met produktiwiteit, ondoeltreffendheid en verouderde infrastruktuur, die hoof gebied word,” sê Meyer.





