Die lekker weer, die spelers en die ondersteuners het almal Sondag 22 Mei ’n gesonde vlakkiekrieketwedstryd in die hartjie van Roodewal-woonstelle verseker.
Clovers het die afgelope paar jaar weinig op tuisbodem gespeel en dit het nie aldag lekker by die inwoners van Roodewal gesit nie. Dus het Clovers se bestuur hul bes probeer om ’n wedstryd op hul tuisveld te reël.
Volgens Luzaan Cupido, ’n bestuurslid van Clovers, verstaan Hartwig Lions – teen wie Clovers Sondag kragte gemeet het op sy tuisveld – se voorsitter waaroor dit gaan as dit by krieket op tuisveld kom.
“Soms dink mense dat dit oor hulself gaan terwyl dit eintlik oor die jongelinge gaan. Die antie en oom wat vir vyf ure vermaak kan word en selfs die bendelid of dwelmverslaafde wat hul held of gunstelingspan in aksie wil sien. Dis waaroor dit gaan en dis wat die voorsitter van Hartwig Lions, Japie Visser, verstaan,” sê sy.
Dis die eerste keer in jare dat Hartwig Lions en Clovers kragte meet.
Hartwig het besluit om te kolf nadat hulle die loot gewen het. Na ’n wankelrige begin het die span op 82 lopies geëindig, danksy ’n stewige 34 lopies van Malcom de Jager en 24 deur Leighton Davids. Vir Clovers het sy kaptein, Fyrin Hendricks, ’n briljante drie paaltjies geneem vir slegs 12 lopies in sy drie boulbeurte.
Clovers is welbekend vir sy kolfaanval en gedurende hierdie wedstryd het hy gewys hoekom, toe hy 116 aangeteken het in 15 boulbeurte.
Dit het Clovers met ’n voorsprong van 34 gelaat danksy uitstekende kolfwerk van Etthienne Jansen, (38) en Romano Adams en Javier Visser, wat elkeen 25 lopies aangeteken het.
Dit het Hartwig Lions onder geweldige druk geplaas, wat sy paaltjies laat kantel het. Mario Marinus het vier paaltjies in sy vier boulbeurte geneem vir slegs 15 lopies. Ten einde moes Clovers ’n teiken van 36 jaag, wat hy in die derde boulbeurt bereik het.
Clovers se afrigter, Ricardo Cupido, is nou gefokus op wat volgende maand vir sy span voorlê.
“Op die oomblik gaan dit net oor die naweek van 11 Junie: Oudtshoorn. Ons moet voorbereid wees wanneer ons die kampioene, Hungry Lions, in sy agterplaas die stryd gaan aansê. Dalk lê ons wakker oor die finansiële aspek wat hiermee gepaard gaan, maar ons ken iemand by wie daar absoluut niks onmoontlik is nie. Dis die Hemelse Vader,” sê hy.





