Wynveiling gee Huis Wittekruin Tehuis vir Bejaardes ‘n geldelike hupstoot

Karin Delport, Huis Wittekruin se bestuurder, tweede van links. Foto: Danie Hefers
Karin Delport, Huis Wittekruin se bestuurder, tweede van links. Foto: Danie Hefers

Vredenburg.

Huis Wittekruin in dié Weskusdorp het gisteraand (Vrydag 12 September) sy jaarlikse wynveiling gehou. Dié geleentheid is ‘n waardevolle fondsinsameling vir die tehuis wat al sedert 1973 bestaan.

Huis Wittekruin is ‘n program van die bekende Badisa-organisasie en bied veilige residensiële en bekostigbare sorg ter bevordering van optimale lewenskwaliteit.

Kerke, diensorganisasies en vrywilligers lewer jaarliks belangrike bydraes tot die suksesvolle voortbestaan van dié program.

En gisteraand se wynveiling was geen uitsondering nie.

Vrywilligers, organiseerders en wynkelders se helpende hande en oop beursies het onder meer bygedra om dié jaarhoogtepunt spesiaal en suksesvol te maak vir almal wat dit bygewoon het.

Volgens Karin Delport, Huis Wittekruin se bestuurder, is die wynveiling se inkomste baie belangrik vir die tehuis en sy sowat 150 inwoners. “Wyne van regoor die Wes-Kaap is geskenk. Die wynveiling se opbrengs gaan gebruik word vir die opgradering van ons kombuis en washuis.”

Volgens Koos Louw, die voorsitter van Huis Wittekruin se beheerraad en self ‘n geesdriftige wynversamelaar, het sowat honderd lotte onder die afslaer, Tjaart Steyn, se hamer gekom.

“Dit is sowat 250 bottels. Ván die skenkings is bekroonde wyne van top kelders in die land. Hier is selfs ‘n paar bottels van oorsee en ‘n 2001-wyn van die bekende wynmaker, Jan Boland Coetzee, wat vanoggend skielik oorlede is.”

  • Die legendariese Springbok-rugbyspeler en bekende wynmaker, Jan Boland Coetzee, is ná ‘n kort siekbed op die ouderdom van 80 jaar oorlede. 12 September 2025. Hy was veral aktief betrokke by die vestiging van Chardonnay en Pinot Noir variëteite in Suid-Afrika.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article