Hy was haar lewensmaat – die liefde van haar lewe.
Dít is hoe die Weskus-sangeres Vigeniëa Payne haar geliefde, Johan de Vries (69), sal onthou.
Die afsterwe van De Vries op Saterdag 15 Augustus het Payne en dié wat hom geken het, diep geraak. Die paartjie was ongeveer 29 jaar saam, met hul liefde en ondersteuning vir mekaar wat gestraal het.
De Vries, wat op 3 April 1957 gebore is, was in 1988 die stadsbeplanner van die voorganger van die Saldanhabaai-munisipaliteit, die destydse Vredenburg-Saldanha-munisipaliteit.
Sy dood was onverwags terwyl dokters nog op toetsuitslae van die Groote Schuur-hospitaal gewag het. Die uitslae sou eers op Maandag 17 Augustus beskikbaar wees, maar De Vries is reeds twee dae tevore oorlede.
Payne beskryf hom as ‘n skerp denker wat met groot gemak op sy voete kon dink asook iemand met ‘n sterk sin vir integriteit.
“Sy ‘old school’-persoonlikheid was iets wat ek regtig waardeer het. Hy het steeds die voertuig se deur vir my oopgemaak ten spyte daarvan dat voertuie afstandbeheer- ders het. Hy het altyd opgestaan wanneer ‘n vrou ‘n vertrek binnegekom het – ‘n ware gentleman,” sê Payne.
Volgens haar was De Vries ‘n man van sy woord. “Sy ‘ja’ was sy ja en sy ‘nee’ was sy nee.” Hoewel hy soms ‘n bietjie knorrig kon wees – veral gedurende die laaste paar maande van sy lewe – sê Payne sy het hom verstaan.
De Vries het ook ‘n besondere rol in Payne se musiekloopbaan vervul. Hy was haar bestuurder, klankman en raadgewer wanneer dit by haar musiek gekom het.
“As dit nie vir Johan was nie, sou ek waarskynlik nie op televisie verskyn het nie. Hy was die regte dryfkrag agter my musiek,” sê sy.
Die Bette Midler-liedjie Wind Beneath My Wings sal Payne altyd aan De Vries verbind. Sy beskryf hom as haar steunpilaar en iemand wat trots op haar was en haar beskerm het. “Die liefde, die verstandhouding en respek tussen ons was diep en sterk.”
De Vries het Payne in talle aspekte van haar lewe gelei en haar dikwels met sy kwinkslae laat lag.
“Ek praat steeds met hom wanneer ek in ongemaklike situasies is en nie weet wat om te doen nie. Ek mis hom baie,” voeg sy by.
Payne sê die band tussen hulle was só sterk dat hulle nooit nodig gehad het om hul gevoelens in die openbaar te vertoon nie.
“My mooiste herinneringe van Johan is gewis sy onvoorwaardelike liefde vir my.”
Hy was haar lewensmaat, raadgewer, grootste ondersteuner en, bo alles, haar geliefde.





