In ‘n wêreld waar mense maklik verby mekaar stap, bewys ‘n eenvoudige daad van eerlikheid dat goeie samaritane steeds bestaan.
Vir Lucrisia Wyngaard, wat net buite Moorreesburg woon, het ‘n verlore beursie danksy ‘n vreemdeling se eerlikheid ná byna twee maande weer sy pad huis toe gevind.
Wyngaard het op Saterdag 4 Julie saam met haar man en hul hond ‘n mark in Saldanha besoek. Nadat sy haar bankkaarte by die mark gebruik het, het hulle later strand toe gegaan om met hul hond te stap en speel.
Sy het eers nadat hulle van die strand af weg is, besef haar beursie is weg.
Wyngaard het dadelik haar kaarte laat blok en ook die mark-organiseerders gekontak om uit te vind of iemand dit dalk ingehandig het, maar sonder sukses.
Dit was eers byna twee maande later dat sy ‘n boodskap op Facebook Messenger gekry het van Jolene Louw, ‘n inwoner van Diazville, wie se dogter die beursie opgetel het.
Welda Louw het haar kleinkind sien loop met iets, maar eers gedink dit is ‘n speelding. Sy het egter later gesien dit is ‘n beursie.
Jolene het ‘n foto van Wyngaard se ID-dokumente gestuur en gevra of dit aan haar behoort. Nadat Wyngaard dit bevestig het, het hulle gereël dat sy haar beursie kan gaan haal.
Tot Wyngaard se groot verligting was haar belangrike dokumente steeds daarin, insluitend haar groen ID-boek, Smart ID, rybewys, visitekaartjies en ander kaarte.
Vir Welda was dit vanselfsprekend dat die beursie aan sy eienaar terugbesorg moes word. “As jy iets goed doen, sal dit altyd dubbeld na jou toe terugkom. Ek glo ‘n mens moenie goed hou wat nie aan jou behoort nie,” sê sy.
Sy sê dit het haar goed laat voel om te weet Wyngaard het waarskynlik gedink alles is verlore en sy sou andersins die moeite moes doen om haar dokumente te laat vervang. “Ek is iemand wat nie twyfel om iets aan die regmatige eienaar terug te gee nie. Ek kon dit met selfvertroue doen en ek is net bly dit het by die regte mens uitgekom.”
Louw het ook ‘n boodskap vir ander mense wat iemand se persoonlike besittings optel.
“Asseblief, moenie ontslae raak van mense se persoonlike goed wat julle optel nie. Sorg maar dat hulle dit kry, of gee dit by die naaste polisiekantoor af.”
Vir Wyngaard was die terugbesorging ‘n groot verligting. “Ek voel net baie keer dat mense na mekaar uitkyk,” sê sy.
“Ek is baie dankbaar dat sy my gekontak en my goed vir my gehou het. Dit het my baie moeite en koste gespaar,” het sy bygevoeg.





