Ablusie geriewe by die Noordhoek sentrum in Albatros laan

Vrae oor Noordhoek koste


‘n Gemeenskapslid het vrae laat ontstaan oor die boukoste van die nuwe ablusiegeriewe by die Noordhoek Sakesentrum in Velddrif. Bergrivier Munisipaliteit sê die koste hou verband met die oprigting van ‘n volledige fasiliteit as deel van ‘n groter ontwikkelingsprojek en nie net die installering van toilette nie.

Vrae oor die boukoste van die nuwe ablusiegeriewe by die Noordhoek Sakesentrum in Albatroslaan, Velddrif, is onlangs onder Weslander se aandag gebring nadat ‘n lid van die Velddrif gemeenskap en plaaslike belegger sy kommer oor die projek uitgespreek het.

Volgens die gemeenskapslid is die geriewe teen ‘n koste van sowat R650 000 opgerig. Hy voer aan dat die huidige markverwante boukoste volgens sy kennis tussen R9 000 en R15 000 per m₂ wissel, terwyl die koste van die Noordhoek geriewe volgens sy berekening op ongeveer R21 000 per m₂ neerkom.

Hy meen ontwikkeling in Velddrif is noodsaaklik en verwelkom nuwe projekte, maar sê dit behoort volgens die korrekte prosedures en binne aanvaarbare boukostes plaas te vind.

Die gemeenskapslid het verder gevra dat Bergrivier Munisipaliteit verduidelik waarom die boukoste volgens hom aansienlik hoër as markverwante pryse is en hoe die projek toegeken is.

Weslander het die navraag aan Bergrivier Munisipaliteit (BM) gerig.

In BM se reaksie verduidelik die munisipaliteit dat die ablusiegeriewe nie ‘n afsonderlike projek is nie, maar deel vorm van die groter Noordhoek Sakesentrum ontwikkeling en ‘n uitbreiding van Fase 1 van die projek is.

Volgens die munisipaliteit is die ontwikkeling daarop gemik om ‘n volhoubare sakekern te vestig wat ekonomiese groei bevorder en klein, medium en mikro ondernemings in Noordhoek ondersteun. Die ablusiegeriewe vorm volgens die munisipaliteit ‘n noodsaaklike deel van die infrastruktuur wat die sakesentrum in staat stel om doeltreffend te funksioneer.

Die munisipaliteit sê die projek is oor die 2024/25 en 2025/26 boekjare voltooi en is hoofsaaklik deur die Streek Sosio Ekonomiese Projekte toelaag befonds. Volgens die munisipaliteit is R2,9 miljoen aan provinsiale befondsing ontvang, terwyl die raad ook R300 000 uit munisipale fondse goedgekeur het om die projek te voltooi.

Die totale koste van die Noordhoek Sakesentrum ontwikkeling beloop volgens die munisipaliteit R3 075 585, BTW ingesluit. Die kontrak vir die bou van die ablusiegeriewe is volgens die munisipaliteit teen R658 392,81, BTW ingesluit, toegeken.

Noordhoek sentrum in Albatroslaan Velddrif.

Noordhoek sentrum in Albatroslaan Velddrif.

Met betrekking tot die bewering dat die boukoste buitensporig hoog is, sê die munisipaliteit hy stem nie met dié siening saam nie.

Volgens die munisipaliteit weerspieël die kontrakbedrag die oprigting van ‘n volledige openbare ablusiefasiliteit en nie bloot die installering van toilette nie.

Die werk het volgens die munisipaliteit onder meer terreinvoorbereiding, uitgrawings, betonwerk, messelwerk, metaalwerk, loodgieterswerk, water en rioolaansluitings, waterdigting, dakwerk, verfwerk, skrynwerk, binnetoerusting en voldoening aan bou en veiligheidsvereistes ingesluit. Die kontrak het ook toilette, wasbakke en roldeure ingesluit.

Op die vraag oor die tenderproses sê die munisipaliteit die projek is volgens sy voorgeskrewe voorsieningskanaalbestuur beleid toegeken. Nadat die vereiste prosesse afgehandel is, is die tender op 25 Mei 2026 aan Teamwork RL toegeken vir ‘n kontrakbedrag van R658 392,81.

Die munisipaliteit voeg by dat alle aanstellings volgens die toepaslike wetgewing en sy goedgekeurde voorsieningskanaalbestuur beleid gedoen is en moedig gekwalifiseerde diensverskaffers aan om vir toekomstige tenders aansoek te doen.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 16 July 2026
    Weslander E-Edition – 16 July 2026

Gift this article