Verskeie rolspelers was ook teenwoordig tydens die besoek. FOTO: Noluvu Ludidi
Verskeie rolspelers was ook teenwoordig tydens die besoek. FOTO: Noluvu Ludidi

Premier besoek Langebaan polisie, prys hulle ook oor netheid


LANGEBAAN – Alan Winde, die Wes-Kaapse Premier, het op Dinsdag 21 Julie die Langebaan-polisiestasie besoek nadat dit onlangs as die netjiesste polisiestasie in die Saldanhabaai-munisipaliteit aangewys is.

Hy is tydens die besoek vergesel deur Anroux Marais, die Wes-Kaapse Minister van Polisie-oorsig en Gemeenskapsveiligheid, en generaal-majoor Sizakhele Dyantyi, die Weskus-distrik se polisie-bevelvoerder. Hulle het die stasie besoek en met personeel vergader om hulle geluk te wens met die prestasie.

Die opknapping van die polisiestasie is moontlik gemaak deur ‘n publiek-private vennootskap met Indawo Construction, waartydens R700 000 ingesamel is. Die fondse is aangewend om die stasie te verbeter met netjiese tuine, skoon en nuutgeverfde geboue, behoorlike naamborde en beligting, nuwe meubels en ‘n meer verwelkomende omgewing vir die publiek.

Genl.-maj. Sizakhele Dyantyi, Priemier Alan Winde en minister Anroux Marais.
Genl.-maj. Sizakhele Dyantyi, Priemier Alan Winde en Anroux Marais (Wes-Kaapse Minister van Polisie-oorsig en Gemeenskapsveiligheid). FOTO: Noluvu Ludidi

Die “Netjiesste Polisiestasie”-projek is ‘n inisiatief van die Weskus Distriksmunisipaliteit in vennootskap met die Suid-Afrikaanse Polisiediens en die Wes-Kaapse Departement van Polisie-oorsig en Gemeenskapsveiligheid.

Winde het gesê die Langebaan-polisiestasie behoort die maatstaf te wees waarna ander polisiestasies moet streef.

“Langebaan-polisiestasie is ‘n vars briesie en moet die standaard wees waaraan ons elke polisiestasie meet. Wanneer polisie-infrastruktuur behoorlik onderhou word, verbeter dit die moraal van lede en skep dit ‘n beter ervaring vir inwoners wat die polisiestasie besoek. Ek doen ‘n beroep op alle polisiestasies in die Wes-Kaap om inspirasie by Langebaan te put. Ek wil generaal-majoor Dyantyi en sy span bedank vir hul harde werk,” het Winde gesê.

Hoewel die opknapping ‘n groot verbetering gebring het, het Winde daarop gewys dat die stasie steeds dieselfde uitdagings as ander polisiestasies in die land ervaar. Dit sluit ‘n tekort aan polisielede, onvoldoende voertuie om aan die vraag te voldoen en vakante bestuursposisies in.

Hy het die nasionale polisie-leierskap versoek om dringend aandag te gee aan die afname in personeelgetalle en die tekort aan voertuie in die Wes-Kaap.

Volgens die provinsiale regering dra goed onderhoude polisiestasies nie net by tot ‘n beter werksomgewing vir polisielede nie, maar versterk dit ook die publiek se vertroue in die polisiediens.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 16 July 2026
    Weslander E-Edition – 16 July 2026

Gift this article