Van die Weskus, vir die Weskus: Matthew Dreyden gee terug

Matthew Dreyden

Van die Weskus, vir die Weskus: Matthew Dreyden gee terug


VELDDRIF – Vir sjef Matthew Dreyden lê die hart van sy werk nie net in die kombuis nie, maar ook in die gemeenskap waar hy grootgeword het.

Met die Matthew Fergus Dreyden Fonds wil hy ’n praktiese verskil in die lewens van kinders en jongmense aan die Weskus maak.

Die behoefte aan die fonds het ontstaan uit wat Dreyden self rondom hom sien. Hy weet hoe belangrik dit is om iemand te hê wat in jou glo en jou ’n kans gee.

Matthew Dreyden.
Matthew Dreyden.

“Daar is baie talentvolle kinders in ons gemeenskap, maar finansiële omstandighede kan soms ’n groot struikelblok wees,” sê hy.

Die fonds fokus op onderwys, sport en kultuur en het reeds kinders en leerders met skoolverwante behoeftes ondersteun. Volgens Dreyden gaan dit nie noodwendig oor groot bedrae nie, maar oor die invloed wat selfs ’n klein bydrae op ’n kind se lewe kan hê.

“Ek wil hê ’n kind moet voel: My omstandighede bepaal nie my toekoms nie.”

Om fondse in te samel, word die Matthew Dreyden en Vriende geleentheid op Saterdag 3 Oktober 2026 by die Velddrif Stadsaal aangebied.

Die aand beloof ’n besondere kulinêre en vermaaklikheidsbelewenis van die Weskus, vir die Weskus, met kosdemonstrasies, musiek, vermaak, proeervarings en deelname deur die gehoor.

Hunter Plaatjies en Roxanne Blaise van Meatless Monday, Sterkbek, Tietie en Nanna, Lynjie Jaars en Quinton Manuel is onder die deelnemers en spesiale gaste wat deel van die geleentheid sal wees.
Vir Dreyden is dit belangrik om ’n groot vertoningservaring na Velddrif te bring, sodat mense nie noodwendig Kaapstad toe hoef te reis om dit te beleef nie.

“Hoekom moet die Weskus altyd iewers heen gaan vir daardie ervaring? Kom ons bring dit hierheen.

En terwyl ons dit doen, laat ons seker maak dit beteken iets vir ons eie mense.”

Dreyden se loopbaan as sjef het hom geleer om nooit te vergeet waar hy vandaan kom nie.

“Die Weskus en Velddrif is deel van wie ek is. Ek het hier grootgeword, hier my eerste drome gehad en hier geleer om hard te werk.”

Nou wil hy sy platform gebruik om ander jongmense te help om hul drome te verwesenlik.

“Ek wil hê kinders moet weet dat dit goed is om groot te droom, maak nie saak waar jy vandaan kom nie.”

Alle wins uit die geleentheid gaan aan die Matthew Fergus Dreyden Fonds ten bate van kinders in die Weskus, met die fokus op onderwys, sport en kultuur.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 3 September 2026
    Weslander E-Edition – 3 September 2026

Gift this article