Die TV-aanbieder, skrywer en stapper Erns Grundling kom kuier vir die eerste keer op die verhoog by Die Koelkamers.
Hy deel in hierdie openhartige praatjie meer oor die impak van stap, pelgrims- togte en reis op sy lewe en loopbaan. Die praatjie sluit ook voorlesings uit sy kreatiewe skryfwerk en topverkoperboek, Elders (2017), in. Van die temas waaroor hy gesels, is bewustelik leef (mindfulness) en die positiewe gevolge van stap en oefening op psigiese gesondheid. Hy deel natuurlik ook ‘n staaltjie of twee oor sy tweejarige tweelingseuns, André Jakkals en Henry Wolf.
Vroeër vanjaar het Grundling die Netwerk24 Smaakmakertoekenning in die Ouerskap-kategorie gewen vir sy sosialemediaplasings oor pa-wees met ‘n identiese tweeling. Sy kykNET-reisprogram Elders se sewende seisoen, Elders: Ligtoringroete, is ook vanjaar met ‘n gesogte SAFTA-toekenning bekroon in die kategorie “Best Lifestyle Programme” op Suid-Afrikaanse televisie.
Hoewel hierdie ‘n Sondagmiddag vertoning is, is mense wat kaartjies bespreek welkom om saam met Grundling die oggend van 08:00-09:00 aan ‘n kort en ontspanne begeleide stap deur Paternoster deel te neem, wat ook ‘n storie of twee en ‘n boekvoorlesing gaan insluit.
Sy vrou, Catharien, en tweelingseun- tjies stap saam. Of wel, die twee karnallies gaan in ‘n dubbelstootwaentjie sit.
“Ek het Die Koelkamers al saam met Schalk Bezuidenhout besoek toe hy hier opgetree het en was mateloos beïndruk met die venue en Jan en sy span se vriendelikheid en diens,” sê Grundling.
“En die Weskus-mense is wonderlik en gasvry. Ek sien baie uit daarna om vir die eerste keer hier op die verhoog te wees en meer te deel oor my reis met stap. Dit sal ook lekker wees om vir Catharien en die seuntjies daar te hê, want ek is baie – eintlik te veel – alleen weg van die huis. Kom stap en kuier saam,” nooi Grundling.
◘ Die praaitjie vind Sondag 21 Junie om 12:00 plaas en kaartjies kos tussen R138 en R299.
Besoek www.diekoelkamers.com om te bespreek.




