Inwoners van Witteklip het hul kommer uitgespreek oor die installering van sogenaamde “slim watermeters” in die buurt.
Inwoners was verdeeld oor die slim watermeters en was onseker oor hoe dit hulle sou beïnvloed, of dit vir hulle voordelig sou wees, of moontlik nadele sou inhou.
‘n Gemeenskapsvergardering is voorverlede Donderdag (4 Junie) gehou in voorbereiding vir ‘n vergadering met die munisipaliteit. Volgens Norman van Wyk, ‘n gemeenskapsleier, is verskeie vrae ná deeglike gesprekke en interaksies met relevante amptenare van die munisipaliteit bevredigend beantwoord.
Van Wyk sê daar is skriftelike bewyse en tegniese voorbeelde wat die werking van hierdie slim watermeters demonstreer.
“Ek het ook opvolgnavorsing gedoen oor al die inligting wat verskaf is en is tevrede dat geen watertoevoer afgesny sal word wanneer ‘n sekere waterverbruiksperk bereik word nie. Ek is oortuig daarvan dat die slim watermeters nie outomaties die watertoevoer na my eiendom sal afsny nie.
“Een vraag wat egter nie direk beantwoord is nie, was of hierdie slim watermeters tot verlies van werk vir die huidige fisieke watermeterlesers in die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) sal lei. Die feit dat SBM-amptenare erken het dat baie meer gedoen kan word ten opsigte van gemeenskapsbetrokkenheid voor die uitrol of implementering van raadsbesluite, was ook bemoedigend.”
‘n Ander inwoner sê egter die gemeenskap is nie in die proses geken nie en daar was ‘n gebrek aan openbare deelname. “Wat was so swaar om die gemeenskap te betrek in die besluitneming en hoekom word daar nie plaaslike kontrakteurs gebruik om die installering te doen nie?” vra die inwoner.
“Dit sou beter gewees het as die gemeenskap betrokke was en die nodige inligting gehad het. Ons ouer mense weet nie altyd wat aangaan nie, en niemand het ons as gemeenskap geken nie.”
Ethne Lawrence, woordvoerder van SBM, verduidelik dat slim watermeters nie voorafbetaalde watermeters is nie.
“Hul primêre doel is om die akkuraat- heid van watermeting en fakturering te verbeter, om te help met die opsporing van lekkasies, om waterverliese te verminder, en om beter verbruiksinligting aan beide die munisipaliteit en verbruikers te verskaf. Die installering verander nie bestaan- de tariewe nie, bring nie voorafbetaalde water in nie, en sny nie outomaties ‘n verbruiker se watertoevoer af wanneer ‘n sekere volume water gebruik is nie.”
Lawrence sê die proses het in 2017 in Vredenburg begin. Meer as 5 000 meters is reeds geïnstalleer. Sy bevestig dat nog meer slim watermeters deur SBM geïnstalleer sal word. “Die huidige installasies word voltooi onder die nasionale tesourie-RT29-kontrak. Inwoners word nie enige addisionele maandelikse heffing vir die installering van hierdie meters gehef nie.”
Van Wyk sê die slim watermeters is ‘n stap in die regte rigting. “Dit het die potensiaal om huishoudings wat reeds finansieel swaarkry baie geld te bespaar.”




