VREDENBURG – Tien seuns uit die Louwville-omgewing het vroeër vandeesmaand, van Vrydag 2 tot Sondag 4 Oktober, aan Sour West se eerste vakansie- kamp deelgeneem.
Die doel van die kamp was om die jongmense te ontwikkel, te ondersteun en hulle te help om hul potensiaal te verwesenlik.
Die seuns is uit die gemeenskappe van Louwville, Yskor, Selfbou en Witteklip gekies.
Samantha Coraizin bedank graag die Pixie Fairy Park in Jacobsbaai, wat sy deure vir die kinders oopgemaak het; die eienaar van die Oppiwa-winkel, wat die kamp ondersteun en geborg het; die ouers wat dit moontlik gemaak het vir hul kinders om die kamp by te woon; asook die ander rolspelers wat gehelp het om die kamp ‘n sukses te maak.
“Dankie aan almal wat nie genoem wil word nie, en aan ons seuns wat my toegelaat het om hulle te nooi en met ‘n harde ‘ja’ geantwoord het,” sê sy.
Sour West is ‘n jong organisasie wat daarop fokus om ‘n positiewe verskil in jongmense se lewens te maak. Die organisasie is deur Coraizin gestig en fokus op verskillende aspekte van persoonlike ontwikkeling, met die doel om jong vroue en mans te help groei, trauma te verwerk en hul lewensdoel te ontdek.
Verskeie programme sal aangebied word om jongmense te help om hul ware identiteit te ontdek en uitdagings te oorkom wat hul persoonlike groei en ontwikkeling kan belemmer.
LEES OOK: JEUGDAG | Weskus-Jeug vol drome





