Leerders van verskeie skole het aan die Jeugleierskonferensie deelgeneem.

Die eerste Weskus-jeugleierskonferensie is op Vrydag 27 Maart met groot sukses aangebied.

Die saad vir hierdie inisiatief is reeds in 2023 geplant toe Jano Reynolds, destydse hoofseun van die Hoërskool Hopefield, die geleentheid gekry het om ‘n jeugleierskonferensie by te woon. Teen die einde van sy matriekjaar het hy besef dat hy baie van die hoofleiers van skole op die Kaapse Skiereiland ken, wat hy by die konferensie ontmoet het, maar nie eens geweet het wie die hoofleiers van die naburige Weskus- skole was nie.

Hieruit het die idee ontstaan om ‘n jeugleierskonferensie spesifiek vir skole aan die Weskus aan te bied.

Volgens Liezel Reynolds, wat die idee verder ontwikkel het, was finansies aanvanklik ‘n groot struikelblok.

“Ek het eers met ‘n moontlike borg onderhandel, maar daardie opsie het op die laaste nippertjie deur die mat geval. Net toe ek moed wou opgee, het my skoolhoof my meegedeel dat ‘n firma hom genader het om as borg op te tree.”

Uiteindelik het vier firmas saamgespan om die konferensie moontlik te maak.

Wat die konferensie ekstra spesiaal maak, is dat die ouers van leiers wat die afgelope ses jaar Die Burger Jeug-leierskonferensie bygewoon het, gehelp het met die voorbereidings en reëlings, aangesien die leerders self almal besig was met eksamens by die instellings waar hulle tans studeer.

Die volgende skole het die konferensie bygewoon: Hoërskool Diazville, Hoërskool Louwville, Hoërskool Weston, Hoërskool Vredenburg, New Vredenburg High, Curro Privaatskool en Hoërskool Hopefield.

Al die gr. 12-hoofleiers, asook die gr. 11-VRL-lede, het die konferensie bygewoon. Die insluiting van die gr. 11-leerders was doelbewus, sodat hulle nou reeds voorberei kon word vir die leierskapsverantwoordelikhede van hul matriekjaar.

Die organiseerders was bevoorreg om Celeste Stewart van Bold Curiosity, een van die fasiliteerders van Die Burger Jeug- leierskonferensie, as aanbieder te kry.

Bold Curiosity spesialiseer in leierskapsontwikkeling, en Stewart het die dag op ‘n praktiese wyse aangebied, met ‘n sterk fokus op skoolgeoriënteerde leierskap asook op die bou van netwerke en verhoudings tussen die leerders.

Die hoop is dat hierdie konferensie die grondslag gelê het vir ‘n jaarlikse instelling in die Weskus.

‘n Spesiale woord van dank gaan aan die borge Westarcor, Vaalmac, KEA Projects en FST, asook aan die Hoërskool Hopefield wat as gasheer opgetree en vervoer aan die leerders verskaf het.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article