Marlon Kayster van die Hoërskool Porterville het sy naam op die nasionale atletiekverhoog laat geld toe hy die 200 m titel in 21,04 sekondes gewen het.

Hy het ná ‘n teleurstelling in die 100 m vroeër op die byeenkoms met sukses teruggeveg.

Die oorwinning is nóg ‘n bewys van die Weskus se groeiende talentpoel in naellope en die ontwikkeling van jong atlete in die streek. Ondanks ‘n besering het Kayster groot deursettingsvermoë en volwassenheid gewys.

Munya Maraire, hoof van World Wide Scholarships (WWS) en Kayster se bestuurder, sê Kayster hardloop tans met ‘n besering, maar hou steeds aan veg.

“Dié jong man het nog baie om te bied. Hy is die toekoms van Suid-Afrikaanse naellope. Hy het sterk ondersteuning van sy familie en gemeenskap. Marlon is een van die groot talente wat deur die samewerking tussen WWS en Wes-Kaapse skole-atletiek raakgesien is,” sê Maraire.

Die voorsitter van Wes-Kaapse skole-atletiek, Brandon du Plessis, sê dit is belangrik om jong atlete te beskerm en oor die langtermyn te ontwikkel.

“Marlon kom uit ‘n klein dorp, Porterville, en uit Porterville Hoërskool. Hy verdien ons volle ondersteuning, en hy sal dit kry,” sê Du Plessis.

Hy het ook Kayster se afrigter geprys vir die rol wat hy in dié atleet se ontwikkeling gespeel het.

“Wanneer skole, gemeenskappe en ontwikkelingsvennote saamwerk, kry jongmense die kans om te groei en sukses te behaal.”

Met sy talent, deursettingsvermoë en goeie ondersteuning word Kayster as een van Suid-Afrika se belowendste jong naellopers beskou. Sy nasionale 200 m titel is nie net ‘n persoonlike prestasie nie, maar ook ‘n groot oomblik vir atletiek ontwikkeling in die Weskus en Wes-Kaap.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 14 May 2026
    Weslander E-Edition – 14 May 2026

Gift this article