Marlon Kayster pronk met sy medalje kort ná sy rekord in die 100-m-afdeling vir mans o.18.

Kayster hol soos ‘n goed geoliede yster


Marlon Kayster (17), ‘n leerder aan die Hoërskool Porterville, het die afgelope naweek ‘n rekord verbeter toe hy Vrydag (27 Maart) die 100-m-eindronde in 10,31 sek. by die ASA-kampioenskap in Germiston kafgenael het.

Marlon het die 100-m-uitdun in 10,47 sek. voltooi, gevolg deur die halfeindronde in 10,44 sek, waar hy sy skool en die Boland in die o.18-mansafdeling by ASA verteenwoordig het.

Volgens HSP se bemarker, Heini Redelinghuys, kom dié naelloper se vernuf op die atletiekbaan reeds uit sy laerskooldae by Steynville Primêr. Hy het in gr. 7 by HSP aangesluit. “Marlon was nog altyd atletiekgedrewe,” voeg hy by.

Volgens sy afrigter die afgelope sewe jaar, Jakob van der Westhuizen, is dit die vinnigste tyd van dié jaar vir ‘n seun onder 18 in die wêreld.

Dié gouemedaljewenner moes hom egter Vrydagaand weens ‘n knaende liesbesering aan die Boland se 100-m-afslosspan (o.17) onttrek. Dié aflosspan, met Micah Africa, ‘n boorling van Malmesbury, het Vrydag (27 Maart) ‘n nuwe nasionale rekord in die 4×100-m-aflos in 40,71 sekondes opgestel.

Marlon het Saterdag (28 Maart) wel kans gesien vir die 200-m-item. Hy was die naaswenner in 21,00 sekondes.

Sy pa, Wilbur, het Maandagoggend vroeg bevestig dat Marlon nie aan die SA Skole-kampioen-

skapsbyeenkoms, wat eersdaags in Rustenburg (9-11 April) sal plaasvind, gaan deelneem nie.

“Ons gaan vir nou eers aan sy besering moet aandag gee,” het Wilbur gesê.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 4 June 2026
    Weslander E-Edition – 4 June 2026

Gift this article