Twee klein meisietjies se pappa’s sal nie weer huis toe kom nie en hulle ook nooit weer by die kleuterskool kom oplaai nie.

Wat presies die afgelope Maandagaand gebeur het toe ‘n bakkie en ‘n motorfiets mekaar reg van voor getref het sal net dié twee betrokke mense weet. Die feit bly staan dié twee mans se gesinne, families en vriende is in rou gelaat.

Dit laat ‘n mens net weer dink oor die weerloosheid van ‘n lewe, wat in ‘n oogwink in ‘n breukdeel van ‘n sekonde kan eindig. In plaas daarvan dat dié wete swaar op almal se harte lê, is die eerste instink om te bespiegel, om die eerste gedagte wat in iemand se kop opkom, met groot fanfare op sosiale media te deel.

Almal het oornag in kenners verander. Heldersiendes wat alomteenwoordig is; van ‘n hoorsê-gesprek ‘n feit maak; van ‘n halfgebakte frase ‘n vollengte Facebook-plasing maak en niemand ontsien nie.

Dit maak ‘n bespotting van vryheid van spraak, wat in ons land met bloed gekoop is.

Waarheen het ons medemenslikheid verdwyn? Of word dié alomwetenheid gebore uit ‘n kleingeestelike geloof van elke sleutelbord-kryger dat hulle slimmer as almal anders is?

Lê die probleem by die manier waarop mense grootgemaak is, of lê dit dieper by mense wat nie in hul daaglikse omgaan met ander genoeg waagmoed het om hul sê te sê nie, en dan gesigsloos agter hul skootrekenaar of op hul selfoon uiteindelik die kans kry om die pyle te laat vlieg?

‘n Mens wonder maar net.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition -24 September 2026
    Weslander E-Edition -24 September 2026

Gift this article