ST HELENABAAI – Mona Ketelo (71) van die Stompneusbaai-woonbuurt in die Agterbaai is self ‘n pensioentrekker, maar is steeds ‘n bedrywige steunpilaar en broodnodige helpende hand in dié Weskusgemeenskap.
Vir inwoners, en veral leerders van twee plaaslike laerskole, is sy Stompneusbaai se “soptannie”, want die afgelope tien jaar is haar huis in Star Crest-straat ook ‘n sopkombuis.
Leerders van die laerskole E.J. Malgarte en H.P. Williams staan elke Dinsdagmiddag om twee uur tou vir ‘n welkome maaltyd.
Selfs volwassenes trek voordeel uit dié kombuis, waar plastiekhouers in gretige hande met warm en voedsame sop gevul word.

Volgens Mona het sy vir haar oorlede man, wat siek was, begin sop maak. “Dit is tans die enigste sopkombuis in Stompneusbaai. Ons gee kos aan sowat 60 leerders en ook aan volwassenes wat dit nodig het. Ons ervaar ‘n toename in behoefte en die buurt het ‘n voedingskema soos dié nodig.”
Mense wat by Mona se sopkombuis, met die gepaste naam Geloof-Hoop-Liefde baat, is dankbaar. “Dit beteken baie vir ons en ons kinders. Die lewe is swaar en werk is skaars. Die sopkombuis bring darem ‘n bietjie hoop.” sê ‘n ma, wat geduldig saam met haar bejaarde pa op Mona se huisstoep staan en wag vir ‘n warm maaltyd.
Volgens Mona ondersteun die plaaslike NG Kerk in St. Helenabaai haar met voedselskenkings terwyl ‘n vriendin, Nicolene Oosthuizen, met die voorbereiding van etes help.
Mona en Nicolene se omgee vir die inwoners van Stompneusbaai strek egter veel wyer as net die sopkombuis.
Hulle hou ook ‘n jaarlikse Kersete vir sowat 60 bejaardes in die plaaslike Anglikaanse kerk se saal. Dit vind vanjaar op 29 November plaas. “Ons benodig hulp daarvoor. Enige bydraes of skenkings sal welkom wees,” sê Mona.
Kontak Mona by 076 888 7262 en help haar om ‘n verskil vir Stompneusbaai se bejaardes te maak.
Ter inligting
Hongernood in Suid-Afrikaanse huishoudings het sy hoogste vlak sedert 2010 bereik. Volgens die jongste Suid-Afrikaanse Voedselsekerheidsindeks 2026 (saamgestel deur ekonome van die Universiteit Stellenbosch en die Shoprite-groep) het 12% van alle huishoudings en meer as 9,4 miljoen mense in 2025 direkte honger ervaar. Die koers van mense wat dae lank sonder enige kos klaarkom, het gestyg tot 8% terwyl tot soveel as 16% van skoolgaande kinders in huishoudings leef waar hulle gereeld honger ly. Byna drie miljoen kinders gaan slaap gereeld honger.
LEES OOK: Warm harte op Wêreldhongerdag





