Random.

Dis ‘n woord wat deesdae gereeld gehoor word. Die Pharos-woordeboek vertaal dit met “lukraak”, “toevallig” en “ewekansig”, maar nie een van dié woorde kom naby daaraan om ‘n “random act of violence” treffend te beskryf nie.

Die moord die afgelope naweek op ‘n gewilde kroegman van Velddrif was ‘n lukrake, gewelddadige aanval op ‘n paartjie op pad huis toe.

Of wás dit?

Om soveel woede op twee weerlose mense uit te haal, hulle te skop en te slaan, sonder dat hul persoonlike besittings gevat word, klink – hoe meer ‘n mens daaroor dink – al hoe minder … random.

Terwyl ernstige ongelukke oor die Paasnaweek aan die Weskus hokgeslaan is met daaglikse padblokkades deur pligsgetroue wetstoepassers – selfs tot laat in die aand – kan ‘n mens net wonder hoe ‘n groot rol drank en waarskynlik selfs ander onwettige “ontspanningsmiddels” moontlik gespeel het.

Mense koester bitterheid jeens mekaar soos ‘n kosbare hangertjie naby die hart; laat los dit nie ‘n oomblik nie.

Sal selfs ‘n vals glimlag en geselsie aanbied, maar die bitterheid-hangertjie word onder die hemp weggesteek.

Soms gaan dit oor ‘n eenvoudige misverstand of ‘n sin wat as ‘n belediging beskou word; ‘n optrede wat iemand dalk in die gesig vat.

Só dien gans en al te veel random

gebeurtenisse as die vonkie wat ‘n lont van geweld aan die brand steek.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article