Piketberg se Rhino-span het die afgelope Saterdag (11 April) ‘n oortuigende oorwinning van 65-8 oor Steenberg’s Cove in hul Boland- Grootuitdaag-wedstryd behaal.
Stewart Booyse berig ná ‘n vernederende nederlaag vroeër in die seisoen het ‘n gemotiveerde Rhino-span van die begin af oorheers en reeds teen rustyd ‘n 22-3-voorsprong opgebou.
Spelers soos Dihago Booise, Cyall Koordom en Christophai “Boerie” Booise het die pas met skitterende drieë aangegee, met Boerie wat vier keer agter die doellyn gaan kuier het. Cyall Koordom en Requin Lesch het elk ook twee drieë bygedra.
Die wedstryd was ook ‘n huldeblyk aan die span se ontslape spanmaat Gerald “Figo” Monk.

David Rossouw berig dat Young Hearts van Pella met ‘n 47-29-oorwinning oor Velddrif
teruggekeer het. Velddrif het eerste punte aangeteken, maar Young Hearts het teruggeslaan en die wedstryd teen rustyd tot 22-20 laat kantel.
In die tweede helfte het Young Hearts beheer geneem en Velddrif se verdediging met hardlooprugby oopgeskeur.
Reuben Abels, Young Hearts se hoofafrigter, sê die span se voorbereiding en aanpassings het die verskil gemaak.

Die oorwinning skuif Young Hearts nou op na derde plek op die punteleer.
Saldanhabaai het ‘n 31-29-oorwinning oor Hopefield behaal in ‘n wedstryd wat tot die eindfluitjie in die weegskaal gehang het. Hopefield het eerste toegeslaan met ‘n dryfmaaldrie uit ‘n lynstaan. Saldanha het vinnig met sy skrumskakel, Marlin Petersen, se twee drieë geantwoord en die rustydtelling tot 12-14 beperk. In die tweede helfte het Hopefield sy voorsprong tot 24-12 gerek, maar die tuisspan het teruggeveg, met Neill Mathesen (haker) en Malachi Petersen (vleuel) wat oorgesteek het om die telling op 24-24 gelyk te maak.
In die doodsnikke het Jordan Marais (senter) die wendrie gedruk om Saldanha 31-24 voor te plaas, waarna Hopefield nog ‘n laat drie gedruk het, maar die mislukte doelskop het die tuisspan se dramatiese sege verseël.
• Ander uitslae:
Vredenburg 41-19 Langebaan;
St. Helenabaai 17-19 Paternoster; Goedverwacht 27-32 Saldanha Tigers.






You must be logged in to post a comment.