Weslander verskaf weekliks ‘n kort blik op die vorige week se misdaadgebeure in sy verspreidingsgebied met behulp van kapt. Tania Helfrich, ‘n distrikswoord- voerder vir die Weskus-polisie.

Poging tot moord en ontvoering: ‘n 55-jarige vrou het Sondagmiddag omstreeks 13:45 na bewering ‘n ontvoerings- en wurgpoging deur twee vroue naby Club Mykonos oorleef. Sy het vroeër by ‘n vriendin in Langebaan gekuier toe die vriendin se dogter en nog ‘n vrou haar kom oplaai het. Hulle het op ‘n grondpad stilgehou, waar een van die vroue ‘n swartsak oor haar kop getrek het. Die vrou het haar probeer wurg, maar die klaer het die sak geskeur. Hulle het verder gery totdat die klaer in ‘n woonbuurt om hulp kon vra.

Huisroof: ‘n 52-jarige vrou is Saterdagaand omstreeks 22:00 in Louwville, Vredenburg, aangeval nadat sy haar deur vir iemand oopgemaak het. Die man het haar gegryp en gewurg totdat sy haar bewussyn verloor het. Haar man was nie tuis nie. Met sy terugkeer het hy ontdek dat ‘n gereedskapskas, geld en ‘n sak aartappels gesteel is.

Moord: Die liggaam van Anneline Snewe (51) is Saterdagaand omstreeks 22:00 by Mbeki Square in Lutzville gevind. Sy is na bewering met ‘n baksteen teen die kop geslaan. Dit het haar dood veroorsaak.

Verdrinking: Die liggaam van ‘n ongeïdentifiseerde man het Sondag by die Yzerfontein-strand uitgespoel.

Onwettige sigarette: ‘n Bellville-man (35) is Sater- dag deur verkeersbeamptes op die Weskuspad (R27) voorgekeer nadat hy glo sy selfoon gebruik het terwyl hy bestuur het. Onwettige sigarette is in sy voertuig gevind. Hy moet op 8 Desember in die hof verskyn.

Bedrog: Twee klagtes van bedrog teen dieselfde onderneming in Vredenburg is aangemeld nadat twee klante glo nie hul volle begrafnispolis-uitbetalings ontvang het nie. ‘n 43-jarige vrou het in 2021 ‘n begrafnispolis van R10 000 vir haar skoonma uitgeneem. Ná haar skoonma se dood in 2023 het sy die nodige dokumente ingedien, maar het tot dusver net R1 500 ontvang. ‘n 71-jarige man wat in 2009 ‘n polis van R15 000 vir sy vrou uitgeneem het, het ook net R1 500 ontvang.

Strafbare manslag: Johanna Pietersen (61) is Saterdagmiddag omstreeks 13:55 op die N7 naby Malmesbury dood verklaar nadat sy voor ‘n aankomende voertuig oor die pad geloop het.

LEES OOK: Stellenbosch-hof kom tot stilstand ná mesgeveg

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 26 November 2026
    Weslander E-Edition – 26 November 2026

Gift this article