Namate sakeondernemings hulle op Swartvrydag en die feestyd se stormloop voorberei, waarsku kenners dat die druk om vinnig personeel aan te stel, nuwe klante te werf en krediet toe te staan, ook deure vir bedrog kan oopmaak.
Swartvrydag – hierdie Vrydag (27 November), bring ‘n skerp toename in verkope, tydelike aanstellings en kredietaanvrae mee. Die haastige prosesse kan ondernemings egter kwesbaar maak vir identiteitsbedrog, finansiële verliese en misbruik van persoonlike inligting.
Volgens Mettus, die groep agter MIE, Suider-Afrika se grootste agtergrondkontrole- en keuringsmaatskappy, en die kredietburo XDS, weet bedrieërs presies wanneer ondernemings onder druk verkeer en vinnige besluite kan neem.
Jennifer Barkhuizen, Mettus se hoof van kommunikasie, waarsku prosesse wat gewoonlik goed funksioneer, kan tydens die feestyd afgeskeep word.
Haastige aanstellings verhoog risiko
Winkels, pakhuise, koerierdienste en inbelsentrums stel dikwels tydelike personeel aan om die verhoogde vraag tydens Swartvrydag en die feestyd te hanteer. Hierdie werknemers kry soms van hul eerste werksdag af toegang tot kasregisters, voorraad, klantedata en afleweringsvoertuie.
Die risiko lê nie daarin dat tydelike werknemers noodwendig oneerlik is nie, maar oorhaastige aanstellingsprosesse maak dit moeiliker om moontlike risiko’s betyds te identifiseer.
Mettus verwys na HireRight se 2026- Global Benchmark-verslag, waar slegs 10% werkgewers in Europa, die Midde-Ooste en Afrika aangedui het hulle het die afgelope jaar geen afwykings tydens agtergrondkontroles gevind nie.
Tussen ‘n vyfde en twee vyfdes van respondente in verskillende streke het ook gesê hul werknemers ontvang geen spesifieke opleiding om identiteitsbe- drog te herken nie.
Werkgewers word aangeraai om ‘n bestendige minimumkeuringsproses vir alle tydelike aanstellings te volg, insluitend identiteitsverifikasie.
Vir poste waar werknemers met kontant, voorraad of persoonlike data werk, kan verdere kontroles, soos ‘n misdaadrekordkontrole, nodig wees.
Dit is ook belangrik om seker te maak dat die nuweling, wat op die eerste wersdag aanmeld, dieselfde persoon is wat gekeur is. ‘n Duidelike, gedokumenteerde proses kan help om onnodige risiko’s te beperk.
Vir poste waar werknemers die onderneming se handelsmerk verteenwoordig, kan sosialemediakeuring ook oorweeg word, mits dit met die kandidaat se toestemming en volgens ‘n bestendige proses geskied.
Kredietbedrog neem ook toe
Die feestyd bring ook ‘n toename in aansoeke om nuwe rekeninge, winkelkaarte en krediet mee. Bedrieërs maak hiervan gebruik deur gesteelde identiteitsnommers, nagemaakte identiteite of kredietaanvrae in ander mense se name in te dien.
Mettus waarsku ondernemings om identiteite reeds tydens die opening van rekeninge na te gaan en nie eers wanneer ‘n betaling agterstallig raak nie. Kredietwaardigheid en bekostigbaarheid moet behoorlik beoordeel word – selfs wanneer druk ontstaan om aansoeke vinnig goed te keur.
Ondernemings moet ook op patrone let, soos verskeie aansoeke vanaf dieselfde toestel of adres, asook nuwe re- keninge wat kort ná opening onmiddellik tot hul kredietlimiete gebruik word.
Die gevolge van bedrog is dikwels eers maande later sigbaar, wanneer ondernemings met slegte skuld en terugvorderingsprobleme sit, terwyl slagoffers ontdek dat rekeninge in hul name sonder hul medewete geopen is.
Mettus sê ondernemings wat die feestyd suksesvol hanteer, hoef nie noodwendig stadiger te werk nie. Die sleutel is om vooraf duidelikheid te hê oor watter kontroles nodig is, wat van nuwe werknemers en kliënte verwag word en wie vir die goedkeuring van uitsonderings verantwoordelik is.
Swartvrydag beloon spoed, maar ondernemings moet daarteen waak dat die haastigheid bedrieërs bevoordeel.
LEES OOK: Black Friday trends shift





